Goeie Nuus
BULLETIN 14 Oktober 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad se brandbestryers het 13 goue, 10 silwer en ‘n bronsmedalje opgeraap op vanjaar se kompetisie vir die taaiste brandbestryders. Baigum Abrahams het die derde agtereenvolgende jaar haar titel as taaiste vroue-brandbestryder behou, maar deel die eerste plek met Thobeka Senatse. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê meer as 250 brandbestryders en 44 aflosspanne van reg oor die land, asook spanne uit Botswana en Namibië, het aan die kompetisie deelgeneem:
# Ses vroue van die Universiteit van Johannesburg is erken in Mail & Guardian se 2025 Power of Women-lys. Hulle is Khanya Mthethwa, Khulsum Kondiah, Heidi Abrahamse, Danielle Nel-Sanders, Stella Bvuma en Natasha Rene Naidoo. Die lys vereer 100 vroue wie se werk ‘n buitengewone bydrae gelewer het tot velde soos wetenskap, bestuur, onderwys, gesondheid, regte en die kunste. UJ sê die erkenning van hierdie vroue weerspieël die universiteit se voortgesette toewyding aan uitnemendheid, gelykheid en bemagtiging.
# Studente aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het hul vaardighede ten toon gestel op die SIGCyber-studente-uitdaging. Dit is gestig om praktisyns, akademici en studente wat belangstel in kuberveiligheid byeen te bring om ‘n begrip van die kuberveiligheidsektor te bevorder, bewustheid van bedreigings te verhoog, kennis oor beskermende maatreëls te deel, navorsing aan te moedig, die veld in ‘n volwaardige beroep te omskep en denker-leierskap te bied. TUT sê ondanks ‘n beperkte tydsraamwerk het die studente uitsonderlike tegniese kennis, probleemoplossings-vaardighede en strategiese denke getoon.
# Vyf studente-entrepreneurs van die Durbanse Universiteit vir Tegnologie sal aan die eindronde van die wêreldwye Alliance of Guangzhou Stedelike Vernuwings- en Entrepreneurskap-kompetisie deelneem. ‘n Derdejaar-student in Meganiese Ingenieurswese, Lusanda Ndlovu, sê om die eindronde te haal het hom motiveer om voort te gaan om grense te verskuif en volhoubare ingenieursoplossings te vind. Die DUT sal die eerste universiteit in Afrika word wat die gesogte kompetisie aanbied, wat studente-entrepreneurs van 28 universiteite in 23 verskillende lande insluit. Die kompetisie word aan die einde van die maand aangebied.
# En ten slotte: Die Greenovate-toekennings word vanjaar die tiende keer aangebied en besiel jongmense om praktiese, volhoubare oplossings te ontwerp vir Suid-Afrika se bou-omgewing. Sedert sy skepping in 2015 het Greenovate meer as een-miljoen-rand toegeken aan studente van nege universiteite landwyd in die eiendoms-, ingenieurs- en proptech-veld. Om sy tienjarige bestaan te vier, het Greenovate twee nuwe toekennings van tien-duisend-rand elk bygevoeg: die Volhoubaarheid in Aksie-toekenning en die Hervormings-uitwerkingtoekenning. Inskrywings sluit op 10 November.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….