Nuus 14:00
BULLETIN 1 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Lasbrief is uitgereik vir die inhegtenisneming van die geskorste advokaat Malesela Teffo
# Iran se president sê Teheran sal reageer as Amerika sy beloftes nakom
# En rugby: Les Kiss sê die Wallabies leer om druk te verwerk
# Die Regspraktykraad sê ‘n lasbrief is uitgereik vir die inhegtenisneming van die geskorste advokaat Malesela Teffo. Dit volg nadat hy onverwags in die Hooggeregshof in Johannesburg verskyn het tydens die verhoor van die vermeende misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala en vier medebeskuldigdes vir onder meer poging tot moord. Die raad sê Teffo se naam is steeds van die rol geskrap en hy mag nie in Suid-Afrika praktiseer nie. Die Gautengse direkteur van die raad, Ignatius Briel, sê hulle werk saam met die polisie om die lasbrief uit te voer.
# Energiereguleerder NERSA het Sasol Gas se aansoek vir maksimum-gaspryse vir die huidige en volgende boekjaar goedgekeur. Die goedgekeurde maksimum gasprys vir eindgebruikers is 97-rand-31-sent per gigajoule vir die eerste kwartaal van 2026/27, terwyl handelaars en herverkopers ‘n maksimum van 92-rand-44-sent per gigajoule sal betaal. NERSA se woordvoerder, Charles Hlebela, sê ʼn kwartaallikse prysaanpassingsmeganisme sal tot Maart 2028 van krag bly, met ʼn verhoging bo tien-persent wat skriftelike goedkeuring vereis:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se president, Masoud Pezeshkian, sê sy land sal onmiddellik sy deel doen as Amerika sy beloftes nakom ingevolge die tussentydse ooreenkoms wat in Junie onderteken is. Hy het gepraat tydens die beraad van die Sjanghaise Samewerkingsorganisasie in Bisjkek nadat albei lande die eerste regstreekse aanvalle op mekaar uitgevoer het sedert laat in Julie. Amerika het Larak-eiland aangeval, waarna Iran aanvalle uitgevoer het op twee Amerikaanse Lugmagbasisse in Jordanië. Pezeshkian het vroeër gesê Teheran is steeds bereid om te onderhandel oor ‘n oplossing vir die konflik met Washington.
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Les Kiss, sê sy span leer om kalm te bly wanneer die druk toeneem. Australië het die afgelope naweek vasgebyt om ‘n meedoënlose Argentinië te klop. Dit het aan Kiss sy derde agtereenvolgende oorwinning gegee sedert hy oorgeneem het. Dis die Wallabies se eerste wenlopie van vier wedstryde sedert 2021 nadat hulle Italië verslaan het in Joe Schmidt se laaste wedstryd as afrigter. Kiss sê die span het kalm gebly en nie toegelaat dat die druk hulle onderkry nie. Australië en Argentinië pak mekaar Saterdag weer in Mendoza.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-859-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-381-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-38-sent per vat.
# En ten slotte: Die Padverkeersbestuurskorporasie sê Suid-Afrika se lente is meer as ‘n oorgang vanaf winter na warmer weer. Woordvoerder Simon Zwane versoek motoriste, voetgangers en vervoeroperateurs om voor te berei vir ‘n seisoen waarin weerstoestande vinnig kan verander, sigbaarheid beperk kan wees en bestuurders uitdagende padtoestande kan ervaar:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….