Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 October 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Staatspensioenfonds los probleme op met die verwerking van tweepotstelsel-onttrekkings
# Giwusa vra die nasionale minimumloon moet verhoog word tot 15-duisend-rand per maand
# En, krieket: Die Proteas-vroue speel teen Indië in ‘n opwarmingswedstryd vir die T20 Wêreldbekertoernooi
# Die Pensioenfonds vir Staatsamptenare erken vertragings met die verwerking van sowat 205-duisend onttrekkingsaansoeke ter waarde van altesaam 5,7-miljard-rand van die tweepot-aftreestelsel. Betalings sal hierdie week begin, maar lei tot frustrasie onder lede wat teen die einde van verlede maand hulle geld verwag het. Baie het tegniese probleme ondervind met die selfdienstoepassing en probleme om persoonlike besonderhede te hernu of kommunikasie te ontvang. Die fonds gee aandag aan hierdie uitdagings en sê hy bly daartoe verbind om betalings binne die beloofde tydperk van 60-dae te verwerk.
# Die vakbond Giwusa vra die nasionale minimumloon moet verhoog word tot 15-duisend-rand per maand, in ooreenstemming met die aanbevelings van die Leefbare Loon-verslag. Giwusa se president, Mametlwe Sebei, sê hierdie verhoging is nodig om te verseker geen werker in Suid-Afrika hoef onder die broodlyn te leef nie, en dit sal ook begin om die verbysterende vlakke van ongelykheid in die land aan te pak:
# ‘n Gedeelte van die grens tussen Italië en Switserland moet oorgeteken word aangesien gletsers op die grens smelt. Groot dele van die grens bestaan uit gletsers en sneeuvelde. Die twee lande het ooreengekom om die grens onder die ikoniese Matterhorn te verander, wat een van die hoogste bergspitse in die Alpe is. Europa is een van die vastelande wat die vinnigste verwarm en dit het ernstige gevolge vir gletsers. Switserland se gletsers het verlede jaar vier-persent van hulle volume verloor en in 2022 ses-persent.
# Krieket: Die Protea-vroue speel vandag in Dubai teen Indië in ’n opwarmingswedstryd vir die T20 Wêreldbekertoernooi wat Donderdag in die Verenigde Arabiese Emirate begin. Suid-Afrika se eerste wedstryd in die toernooi is Vrydag teen die Windies, ook in Dubai. Die toernooi begin in Sjarjah met die wedstryd tussen Skotland en Bangladesj, wat weens politieke onrus die reg verbeur het om die toernooi aan te bied. Pakistan en Sri Lanka speel daarna in Sjarjah. Die eindstryd is die 20ste in Dubai.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-765-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-649-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-25-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad en Dowe Suid-Afrika stel vandag ʼn nuwe diens vir die dowe gemeenskap bekend. Dit gee hulle deur ʼn funksie van die stad se toepassing regstreekse toegang tot die metro se Openbare Noodkommunikasiesentrum. Die funksie is spesifiek ontwerp vir dowe en gehoorgestremde inwoners. Dit stel hulle in staat om in lewensbedreigende situasies vinnig en maklik bystand te vra sonder om ʼn stemoproep te maak. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die funksie weerspieël die stad se waardes, wat geloof in menswaardigheid insluit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….