Nuus 13:00
BULLETIN 14 Februarie 1nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die regering kan eenvoudig nie sy besteding beheer nie
# Die Internasionale Energie-agentskap is bekommerd oor verskeie risiko’s wat energiesekerheid bedreig
# En sokker: Die Premierliga keur bod goed om ‘n belang in Manchester United te koop
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê dis duidelik dat die regering beheer oor sy inkomste verloor het en behoort verplig te word om dissipline toe te pas sodat voldoende vlakke van dienslewering plaasvind. Die Ouditeur-generaal se jongste 2021/22-verslag oor wesenlike ongerymdhede in plaaslike regering het onthul munisipaliteite toon finansiële verliese van 5,19-miljard-rand. Die instituut se woordvoerder, Makone Maja, sê die verliese is weens goedere en dienste waarvoor betaal is, maar nooit gelewer nie, asook onregverdige en onmededingende praktyke:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, poog om aandag te gee aan skuiwergate in behuisingswetgewing. Sy het belanghebbendes in Kaapstad betrek om insette oor die konsep witskrif oor Menslike Nedersettings in te win om dienslewerings-tekorte die hoof te bied. Die regering streef daarna om behuisings-lewerings-prosesse te verfyn deur gebruik te maak van belanghebbendes se voorstelle om te verbeter. Kubayi sê die gesprek beklemtoon pogings om behuisingstoegang en doeltreffendheid te verbeter ten einde behuisingsuitdagings aan te pak.
# Die Internasionale Energie-agentskap vra regerings om saam te werk om oplossings te vind vir die wêreld se grootste klimaatuitdagings. Minsters van Energie en die Klimaat wêreldwyd vergader in Parys, Frankryk, vir die agentskap se 2024-ministersvergadering. Die uitvoerende direkteur, Fatih Birol, sê kwessies sluit in die risiko’s vir energiesekuriteit rakende Rusland se inval in Oekraïne en internasionale pogings om aan die uitkoms van die COP-28-konferensie oor klimaatverandering te voldoen:
# Sokker: Die Engelse Premierliga het die Britse miljardêr, Jim Ratcliffe, se aanbod om ‘n 25-persent aandeel in Manchester United te koop, goedgekeur. Die 71-jarige Ratcliffe, eienaar van die multinasionale INEOS-maatskappy wat chemikalieë vervaardig, het in Desember ingestem om ʼn aandeel in die klub te koop. Die ooreenkoms van sowat 24,8-miljard-rand moet nog deur die Sokkervereniging goedgekeur word. Die Glazer-familie behou ʼn meerderheidsaandeel in die klub. Ratcliffe en INEOS sal in beheer wees van die mans- en vrouespanne, asook die sokker-akademies.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-14-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-278-dollar-89-sent. Die prys van goud is een-duisend-990-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-75-sent per vat.
# En, laastens: Gautengse motoriste sal van 1 April af begin aansoek doen vir nuwe, peutervrye en hoëtegnologie-nommerplate. Dit sal ʼn Q-R-kode hê wat dit met die voertuig se eienaar verbind en owerhede kan inlig wanneer die voertuig oor die grens beweeg. Premier Panyaza Lesufi sê die nuwe nommerplaatstelsel se doel is om misdaad hok te slaan aangesien voertuie dikwels in voorvalle gebruik word. Motoriste wat hulle lisensieskyfies hernu, sal terselfdertyd vir ʼn nuwe nommerplaat aansoek doen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….