Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby-sake: Airlink het sy aansoek om goedkeuring vir ‘n oorvlug voor Saterdag se derde toets tussen die Springbokke en die All Blacks in Johannesburg teruggetrek. Dit volg terwyl die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid ondersoek instel na die afgelope naweek se oorvlug oor Kaapstad-stadion voor die tweede toets, na kritiek oor die hoogte van die vlug. Die owerheid sê hy het met voldoenings-bevestiging begin, Airlink betrek en die vlugdata-opnames afgelaai. Hy sê hy het nou met die ontledingsproses begin.
Springbok-haker Johan Grobbelaar sal tot 2030 vir die Bulle speel nadat hy reeds in 2017 na Pretoria verhuis het. Hy het meer as 100 wedstryde vir die unie se verskillende spanne gespeel, en tien toetse vir Suid-Afrika sedert sy buiging in 2024. Die Bulle sê in ‘n verklaring die 30-jarige Grobbelaar is ‘n hoeksteen in die voorspeler-pak en die verlenging van sy kontrak versterk hul strategie om wêreldgehalte-talent en kernleierskap te behou. Die unie sê hy verteenwoordig alles waarvoor die Bulle staan.
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het bevestig dat Indië in Februarie die heel eerste Vroue-kampioenetrofee sal aanbied. Sri Lanka het die geleentheid verloor nadat sy regering by sy krieketraad ingemeng het. Ses spanne sal aan die T20-toernooi deelneem: Suid-Afrika, Australië, Engeland, Indië, Nieu-Seeland en Sri Lanka. Die Internasionale Krieketraad se uitvoerende hoof, Sanjog Gupta, sê die toernooi sal ‘n skouspel wees wat die beste van vroue-krieket bied:
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz, het nog ‘n tree nader gegee aan sy derde Amerikaanse Ope-titel deur Jaime Faria van Portugal te verslaan en na die derde ronde deur te dring. Die Spanjaard is terug na ‘n besering van vier maande. Daniil Medvedev van Rusland en die Amerikaners Ben Shelton en Frances Tiafoe het ook hul tweederonde-wedstryde gewen. In die vrouetrekking het die topgekeurde Belarus Aryna Sabalenka Polina Iatcenko van Rusland verslaan om die derde ronde te bereik. Die heersende Wimbledon-kampioen, die Tsjeg Linda Noskova, het Lanlana Tararudee van Thailand geklop.
En die Chinese gelukkige verloorder Bu Yunchaokete het die opkomende ster Rafael Jodar uitgeskakel in die eerste ronde. Die nommer-124 op die wêreldranglys het die 12de-gekeurde Spanjaard in skoon stelle geklop in een van die grootste verrassings van die Grand Slam-toernooi tot dusver. Bu het in die kwalifiserende ronde verloor, maar na die hooftrekking deurgedring toe Thanasi Kokkinakis van Australië weens ‘n besering onttrek het. Hy speel nou teen die plaaslike speler Michael Zheng, wat die Hongaar Fábián Marozsán uitgeskakel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….