Nuus 13:00
BULLETIN 12 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid spreek kommer uit oor seksueel-oordraagbare siektes en MIV-besmettings
# Sokker: Broos is gretig om as Bafana Bafana se afrigter aan te bly
# En, Charles Darwin se groot persoonlike biblioteek word vir die eerste keer onthul
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê hy is bekommerd oor die skerp styging in seksueel-oordraagbare siektes en MIV-besmettings. Tussen April en Desember verlede jaar het 167-duisend-109 mans vir behandeling by openbare gesondheidsgeriewe in die provinsie aangemeld, met 40-persent wat vir manlike uretritis-sindroom behandel is. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die sindroom is kenmerkend van seksueel-oordraagbare siektes:
# Die Stad Kaapstad sê hy ondersoek die voorsiening van alternatiewe energie in informele nedersettings waar woonstrukture nie aan die kragnetwerk gekoppel kan word nie. Dit is deel van die stad se program vir die stedelike energie-behoefte. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Beverley van Reenen, sê toegang tot veilige en volhoubare bronne bly ‘n kritieke fokus vir die stad, nie net om lewensomstandighede te verbeter nie, maar ook om die gevaar van brande te beperk:
# Die Amerikaanse polisie stel ondersoek in nadat ‘n vrou, gewapen met ‘n geweer en vergesel deur ‘n jong kind, doodgeskiet is nadat sy op mense begin losbrand het wat ‘n diens in die bekende pastoor, Joel Osteen, se megakerk in Houston, Texas, bygewoon het. Die vyfjarige kind en nog ‘n persoon is gewond en die kind is tans in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal. Twee wetstoepassers wat nie aan diens was nie, het die vrou na berigte geskiet. Osteen word beskryf as een van die rykste en gewildste pastore in die VSA, wat miljoene mense bereik met sy media-uitsendings en radioprogramme.
# Sokker: Hugo Broos sê hy het hom verbind om as Bafana Bafana se afrigter aan te bly. Daar was bespiegeling dat hy vakante nasionale afrigtigtersposte in Tunisië en Algerië oorweeg. Die 71-jarige het Suid-Afrika tot ‘n derde plek in die Afrika-bekertoernooi gelei wat deur die gasheerspan Ivoorkus gewen is. Broos, wie se kontrak in Junie 2026 verstryk, sê die enigste manier waarop hy sal vertrek, is as die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging hom afdank:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 48-duisend-92-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-22-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-61-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die inhoud van die bekende Britse natuurkenner en vader van die evolusieleer, Charles Darwin, se groot persoonlike biblioteek word vandag vir die eerste keer gepubliseer, wat saamval met wat sy 215de verjaardag sou gewees het. Die katalogus van 300 bladsye wat deur Darwin Online gepubliseer is, bevat sewe-duisend-400 titels oor 13-duisend items, insluitend joernale, pamflette en resensies. Die projek sluit ‘n virtuele rekonstruksie van die biblioteek in. Die akademikus, John van Wyhe, wat die projek gelei het, sê van die boeke dateer uit Darwin se skooldae, byvoorbeeld Oliver Goldsmith se A History of England 1821.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….