Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbokke se skrumafrigter, Daan Human, sê dis nie in sy aard om te probeer kul of sy spelers onwettige skrumopdragte te gee nie. Nieu-Seeland se afrigter, Dave Rennie, het Suid-Afrika beskuldig van onderduimse taktiek in die skrum. Hy beweer die Bokke loop om hul teenstanders in die vaste fasset. Human sê hulle sal selfs harder werk om hul skrumwerk reg te doen, met die klem op basiese oorheersing:
# Krieket: Suid-Afrika het ‘n oorwinning van 43 lopies oor Zimbabwe behaal in hul Namibiese T20-driehoekreeks om feitlik hul plek te verseker in die eindstryd in Windhoek. Lhuan-dré Pretorius het 94 lopies van 51 balle aangeteken en ‘n aanvangsvennootskap van 68 met Jordan Hermann gedeel, voor ‘n tweede paaltjie-vennootskap van 86 met Dewald Brevis. Die Proteas het 185 vir sewe aangeteken het. Zimbabwe is daarna uitgeboul vir 142 toe Duan Jansen en Björn Fortuin tussen hulle sewe paaltjies gedeel het. Suid-Afrika speel Vrydag teen Namibië in hul laaste rondomtalie-wedstryd.
Nog krieketnuus, die jong Protea-snelbouler Kwena Maphaka glo hy sal Kagiso Rabada se rol kan volstaan in hierdie maand se tuis-eendagreeks teen Australië. Rabada is weens ‘n besering uitgesluit en sal nie terugkeer voor minstens volgende maand se toetsreeks teen die Aussies nie. Die twintigjarige Maphaka sê hy is vol vertroue in sy vermoëns nadat hy die boulaanval vir die Leeus en Suid-Afrika onder-19 gelei het. Die eendagreeks teen Australië begin die 24ste in Durban, en die eerste van drie toetse begin op 9 Oktober, ook in die hawestad.
# Swem: Die Olimpiese kampioen, Tatjana Smith, het ‘n aanmaning aan Swem Suid-Afrika gerig en eis die betaling van rente op prysgeld wat na bewering al meer as ʼn jaar lank teruggehou word. Sy beweer Swem Suid-Afrika hou rente terug teen die huidige koers op 560-duisend-rand en 650-duisend-rand prysgeld wat sy op 2023 se Wêreld-watersport-kampioenskap in Japan verdien het. Smith het goud en silwer in die 200- en die 100-meter-borsslag gewen. Hurter Spies-prokureurs, wat Smith verteenwoordig, het SSA tien dae tyd gegee om te reageer.
# En tennis: Gael Monfils het sy 40ste verjaardag in styl gevier met ‘n oorwinning oor Adolfo Daniel Vallejo van Paraguay op die Amerikaanse Ope. Die Fransman, wat die einde van die seisoen uittree, is nou deur na die tweede ronde. Die vyfde-gekeurde Italianer Flavio Cobolli het Francisco Comesana van Argentinië in vyf stelle geklop. In die vroue-afdeling het Elena Rybakina van Kazakstan, wat mik na die wêreld-nommer-een-posisie, die Amerikaanse promotorskeuse Thea Frodin uitgeskakel en na die tweede ronde deurgedring. Die Amerikaners Coco Gauff en Madison Keys het ook gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….