Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Sokker: Die gashere Ivoorkus het Nigerië van agter ingehaal om hulle met twee-een te klop en die Afrika-Bekertoernooi vir die derde keer in te palm. William Troost-Ekong het Nigerië sewe minute voor die einde van die eerste helfte laat voorloop. Franck Kessie het die gelykmaker in die 62ste minuut aangeteken. Die voormalige West Ham-voorspeler, Sebastien Haller, wat teruggeveg het nadat hy in 2022 met testikulêre kanker gediagnoseer is, het die wendoel in die 81ste minuut behaal. Ivoorkus is die eerste gasheerspan wat die toernooi kon wen sedert Egipte dit in 2006 reggekry het.
En, in nóg sokkernuus sê Hugo Broos hy het hom verbind om as Bafana Bafana se afrigter aan te bly. Daar was bespiegeling dat hy vakante nasionale afrigtigtersposte in Tunisië en Algerië oorweeg. Die 71-jarige het Suid-Afrika tot ‘n derde plek in die Afrika-bekertoernooi gelei. Broos, wie se kontrak in Junie 2026 verstryk, sê die enigste manier waarop hy sal vertrek, is as die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging hom afdank:
# Krieket: Australië het Indië in Benoni met 79 lopies geklop om die Onder-19-Mans-wêreldbeker vir die vierde keer in te palm. Harjas Singh het met 55 lopies die beste met die kolf gevaar en Australië het 253 vir sewe van hulle 50 boulbeurte aangeteken – die grootste telling ooit in ‘n Onder-19-Wêreldbeker eindstryd. In antwoord hierop het Mahli Beardman en Raf Macmillan drie paaltjies elk geneem, met Indië wat vir 174 uitgehaal is. Suid-Afrika se snelbouler, Kwena Maphaka, is as speler van die toernooi aangewys nadat hy 21 paaltjies laat kantel het.
# Rugby: Die verdedigende kampioene, Ierland, het hulle indrukwekkende Sesnasies-vertoning voortgesit en Italië in Dublin met 36-nul afgeransel om ‘n bonuspunt-oorwinning te behaal. Danksy drieë deur Jack Crowley, twee deur Dan Sheehan en Jack Conan asook die vleuels James Lowe en Calvin Nash is Ierland na twee rondes nou bo-aan die punteleer. Italië het verlede week naelskraap met 24-27 teen Engeland verloor. Ierland wat volgende Saterdag teen Wallis te staan kom, het nou sedert 2022 elf agtereenvolgende wedstryde in die toernooi ingepalm.
# En, ons sluit af met Amerikaanse voetbalnuus: Die Kansas City Chiefs het die San Francisco 49ers in Las Vegas in bykomende tyd 25-22 geklop om die Super Bowl ‘n tweede jaar agtereenvolgens te wen, en die derde keer in vyf jaar. Patrick Mahomes se aangee na Mecole Hardman het die sege vir die Chiefs verseker om die eerste span in 20 jaar te word wat die trofee twee jaar na mekaar wen. Mahomes – die speler van die wedstryd – sê dit was sy beste spel ooit vir ‘n sege in die Super Bowl:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….