Nuus 13:00
BULLETIN 9 June 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gautengse misdaadsyfers daal met 5,2-persent
# Die uitvinder van Please Call Me vra toestemming vir privaat vervolging in ‘n befondsings-geskil
# En rugby: Die Bulle besluit om nie in Europa te bly tot die Verenigde Rugbykampioenskaps-eindstryd nie
# Gauteng het in die vierde kwartaal van 2025/26 ‘n afname van 5,2-persent in algehele gemeenskaps-aangetekende ernstige misdade getoon. Die polisie se provinsiale misdaadstatistiek dui aan sake van moord- en poging tot moord het met onderskeidelik 15- en 3,2-persent afgeneem, terwyl motorkapings met 17,1-persent gedaal het. Provinsiale kommissaris Tommy Mthombeni sê ontvoerings het effens toegeneem. Hy skryf die statistiek toe aan geïntegreerde wetstoepassingsoperasies, insluitend Operasie Shanela Twee, wat gelei het tot meer as 360-duisend inhegtenisnemings en die beslaglêgging op talle vuurwapens, dwelms, gesteelde voertuie en onwettige goedere.
# Forum for South Africa vra ‘n onmiddellike en deursigtige ondersoek na die voormalige hoof van die Georganiseerde Misdaadeenheid, Richard Shibiri, se vrou. Hy is verlede week afgedank nadat hy skuldig bevind is aan wangedrag, insluitend sy verbintenis met ‘n bekende misdadiger. Sy vrou is glo steeds hoof van die Krugersdorpse speurtak in Gauteng, al het sy nie die nodige kwalifikasies nie. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die kwessie vereis dringende aandag:
# Die uitvinder van Please Call Me, Nkosana Makate, vra die Nasionale Vervolgingsgesag se toestemming om privaat vervolging in te stel teen ‘n voormalige Britse belegger. Makate beskuldig Errol Elsdon van bedrog en vervalsing oor ‘n eis van 40-persent van sy skikking met Vodacom. Vodam het volgens berigte sowat 550-miljoen-rand aan Makate uitbetaal. Elsdon ontken enige oortreding en verwerp bewerings van misdadige optrede. Die saak vorm deel van ‘n langdurige regstryd oor vergoeding in die skikking.
# Die ANC-Jeugliga in Groter Johannesburg gaan Cartrack van strafbare manslag aankla ná ‘n werknemer se dood. Die 29-jarige vrou is dood nadat sy glo haar werkgewer verskeie kere vertel het sy is nie gesond nie, maar steeds moes werk. Die maatskappy sê sy het onmiddellik hulp van opgeleide nooddienste ontvang. Oscar Kanyane van die liga sê werkers moet nie gedwing word om tussen hul gesondheid en hul voortbestaan te kies nie:
# Rugby: Die Bulle keer vandag terug huis toe nadat hulle Glasgow Warriors in Skotland verslaan het in die halfeindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Hulle gaan eerder in Pretoria herstel voor hulle weer vertrek vir volgende naweek se eindstryd teen Leinster in Ierland. Dit sal ‘n herhaling van verlede seisoen se eindstryd wees toe die tuisspan 32-7 gewen het. Die wedstryd sal weer op Croke-park in Dublin gespeel word. Die Bulle hoop steeds op ‘n eerste titel nadat hulle die afgelope vyf jaar vier keer die eindstryd gehaal het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-869-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-332-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….