Nuus 13:00
BULLETIN 8 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party en RISE Mzansi kondig Brett Herron aan as gesamentlike burgemeesterskandidaat vir Kaapstad
# Die Demokratiese Republiek die Kongo sê die aantal bevestigde Ebola-gevalle het tot 515 gestyg
# En tennis: Cobolli is die eerste keer onder die top-tien nadat hy Roland Garros se eindstryd haal
# Die GOOD-party en RISE Mzansi het Brett Herron aangekondig as hul gesamentlike burgemeesterskandidaat vir Kaapstad voor November se munisipale verkiesing. Dit sal sy tweede poging wees om die metro se topamp te beklee na sy vorige een in 2021. Die twee partye werk saam met Build One South Africa onder die vaandel van Unite for Change. Herron het die stand van sake in die metro gekritiseer:
# Die besturende direkteur van die Reputation First Group, Tshepo Matseba, verwelkom president Cyril Ramaphosa se maatreëls om ongedokumenteerde immigrasie te bestry en beskryf sy toespraak as noodsaaklik. Matseba het aan SABC News gesê die toespraak moes al gebeur het en Ramaphosa het nou erkenning gegee aan baie Suid-Afrikaners se kommer oor grensbestuur en immigrasie-afdwinging. Hy sê die voorgestelde ingrypings kan help om openbare vertroue te herstel indien dit doeltreffend ingestel word:
# Die Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid in Limpopo sê die N1 Suid naby die Kremetart-tolplaza in die Hartley-gebied is tans gesluit weens ‘n busongeluk. Die departement se woordvoerder, Mashudu Mabata, sê voorlopige verslae dui aan die bestuurder het beheer verloor en die voertuig het omgeslaan. Sy sê onbevestigde beserings is aangemeld, maar geen sterftes is tans bevestig nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Demokratiese Republiek die Kongo het aangekondig die aantal bevestigde Ebola-gevalle het tot 515 gestyg nadat 27 nuwe monsters in die vorige 24-uur positief getoets het. Regeringsdata toon die bevestigde gevalle sluit 91 sterftes in. Die uitbreking is hoofsaaklik beperk tot die oostelike provinsies Ituri, Noord-Kivu en Suid-Kivu. Gevalle het egter oorgespoel na die naburige Uganda, waar 19 bevestigde gevalle en twee sterftes aangeteken is. Gevalle is ook honderde kilometer verder opgespoor in die DRK se digbevolkte hoofstad, Kinshasa.
# Tennis: Die Italianer Flavio Cobolli is die eerste keer onder die mans-top-tien nadat hy die Franse Ope-eindstryd gehaal het. Hy het vier plekke tot tiende verbeter nadat hy teen nommer-drie, Alexander Zverev van Duitsland, verloor het. Jannik Sinner van Italië en die Spanjaard Carlos Alcaraz bly boaan die ranglys. Die voormalige nommer-een, Novak Djokovic van Serwië, het drie posisies afgeskuif na sewende. Felix Auger-Aliassime van Kanada is vierde, die Amerikaner Ben Shelton vyfde, die Australiër Alex de Minaur sesde, die Rus Daniil Medvedev agste en die Amerikaner Taylor Fritz negende.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-229-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-273-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….