Nuus 13:00
BULLETIN 6 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering ondersoek alternatiewe opsies om die Padongelukkefonds finansieel volhoubaar te hou
# Organiseerders van betogings teen ongedokumenteerde buitelanders eis ‘n vergadering met die regering oor hul beoogde landwye protesoptrede
# En, Rugby: Die Stormers-kaptein sê hulle het nie na Dublin gereis om bloot te speel nie
# Die Minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê haar departement ondersoek ‘n nuwe skema waarvolgens ‘n spesifieke fooi by voertuigeienaars se jaarlikse hernuwing van lisensieskyfies gevoeg kan word. Sy sê die regering ondersoek ook alternatiewe moontlikhede om die Padongelukkefonds finansieel volhoubaar te hou. Creecy sê die fonds word tans uit die brandstofheffing op petrol en diesel befonds. Sy sê die regering weeg verskeie opsies op waarvolgens voertuigeienaars regstreeks tot die Padongelukkefonds kan bydra, moontlik wanneer hulle lisensieskyfies koop of jaarliks hernu.
# Die organiseerders van die protesoptog teen onwettige immigrante eis dringende vergaderings met die regering en die polisie om hul planne vir ‘n landwye betoging op 30 Junie te bespreek. Die hooforganiseerder van die optrede, Phakamile Ndabandaba, sê hulle het nog nie finaal besluit wat hulle dié dag gaan doen nie. Hy sê die optog is egter gemik teen die teenwoordigheid van ongedokumenteerde buitelanders in Suid-Afrika wat volgens hulle die land einde vandeesmaand moet verlaat. Ndabandaba het aan News24 gesê hulle is verheug om te sien ander Afrika-lande het reeds planne begin maak om hul burgers terug te laat gaan na hul vaderland.
# Saftu sê die Departement van Basiese Onderwys se begrotings het die afgelope langer as tien jaar nie tred gehou met inflasiestygings en die toename in inskrywings, infrastruktuurbehoeftes en behoefte aan personeel nie. Asive Dyani van die federasie sê die onderwysdepartemente in al nege provinsies het herhaaldelik beperkte begrotings aangedui as die rede vir die bevriesing van, of oponthoud met aanstellings. Sy sê die regering en die Nasionale Tesourie moet ‘n hoër begroting vir die 2027-skooljaar prioritiseer:
# Die EFF in Gauteng het die beslaglegging verwelkom van nagenoeg drie-miljoen rand se eiendomme en luukse bates van Hangwani Maumela as deel van ‘n voortdurende ondersoek na die plundering van staatsgeld by die Tembisa Provinsiale Hospitaal. Die EFF-woordvoerder, Dumisani Baleni, sê die beslaglegging van die bates is ‘n bewys dat daar gevolge is en dat ‘n opbrengs uit misdaad kan en moet herwin word tot voordeel van die mense. Hy sê die beslaglegging van bates moet egter opgevolg word deur suksesvolle vervolgings en die herwinning van die gesteelde geld.
# Die Stad Tshwane sê die Bronkhorstspruit-watersuiweringsaanleg het sy werksaamhede hervat nadat die pomp vir onbehandelde water herstel is. Die stad se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê die aanleg het Woensdag ‘n meganiese probleem by sy aanleg ondervind, met die gevolg dat onbehandelde water nie gepomp kon word nie. Hy sê die watervlakke van die opgaartenks in Bronkhortspruit, Zithobeni en Ekandustria het intussen verbeter:
# Rugby: Die Stormers besef hulle moet hul beste lewer in hul Verenigde Rugbykampioenskaps-halfeindstryd vanaand teen Leinster wat feitlik nooit in Dublin verloor nie. Die span se bestuur glo egter hulle staan ‘n goeie kans om die eindstryd te haal. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, sê verlede week se kragmeting teen Cardiff het hulle met beserings duur te staan gekom, maar hulle is vol vertroue dat die plaasvervangers goed sal vaar. Die Stormers-kaptein, Ruhan Nel, stem saam dat hulle nie daar is om net te speel nie, maar om te wen. Die afskop is om half-sewe vanaand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….