Nuus 13:00
BULLETIN 23 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa gaan die nasie vanmiddag toespreek oor die onrustigheid binne die Polisiediens
# Julius Mkhwanazi ontken die aanklagte van bedrog en korrupsie teen hom
# En sokker: Mexiko verseker Wêreldbeker-besoekers van hul veiligheid na ‘n dodelike skietvoorval
# President Cyril Ramaphosa gaan die nasie vanmiddag 4-uur toespreek oor die onrustigheid binne die Polisiediens. Hy word vergesel van die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia. Meer hieroor in ons volgende bulletin.
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisiedepartement, Julius Mkhwanazi, het aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling teen hom ontken in die Boksburgse Landdroshof in Gauteng. Hy en sy medebeskuldigde, Ekurhuleni se stadsbestuurder Kagiso Lerutla, het na bewering in 2019 ‘n plan uitgedink om hofverrigtinge deur vals verteenwoordiging te ontduik, en 400-duisend-rand gedeel. Mkhwanazi se regsverteenwoordiger, Peter Wilkins, het in die borgtog-aansoek gesê aanhouding moenie dien as straf voor die verhoor nie:
# Die vakverbond Cosatu verwelkom Eskom se positiewe uitkyk dat geen beurtkrag in die komende winter verwag word nie. Die kragverskaffer sê hy het gevorder van korttermynherstel na ʼn fase van bestendigheid en volgehoue energiesekerheid. Dit verseker dat huise, sakeondernemings en nywerhede deur die wintermaande elektrisiteit sal hê. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê Eskom en sy werknemers moet vir die prestasie geprys word:
# Die prys van vliegkaartjies in Suid-Afrika het skerp gestyg nadat stralerbrandstofpryse verhoog het weens die konflik in die Midde-Ooste. FlySafair sê brandstofpryse het binne ʼn week met tot 70-persent gestyg, wat meer as die helfte van die vlugkoste uitmaak. Die redery het daarom ʼn tydelike bybetaling ingestel. ʼn Retoervlug tussen Johannesburg en Kaapstad kos nou meer as vier-duisend-rand, wat byna dubbel die gewone prys is. Die lugredery sê op sommige roetes word meer as 800-rand by die kaartjieprys gevoeg, wat reiskoste aansienlik verhoog.
President Donald Trump van Amerika sê intussen daar is geen sperdatum vir die einde van die oorlog met Iran en sy vloot-versperring van Iranse hawens nie. Die Iranse president, Masoud Pezeshkian, sê Teheran bly bereid tot samesprekings, maar Amerika se dreigemente, skending van ooreenkomste en versperrings is die belangrikste struikelblokke. Die Withuis se woordvoerder, Karoline Leavitt, sê daar is nie ‘n nuwe sperdatum vir die skietstilstand nie:
# Sokker: Die mede-gasheer van die Wêreldbekertoernooi, Mexiko, het die versekering gegee besoekers sal veilig wees na ‘n skietery by die geskiedkundige Teotihuacan-piramides wat die lewe van ‘n Kanadese vrou geëis het. Dertien mense is beseer toe die aanvaller losgebrand en daarna sy eie lewe geneem het. Hy is na bewering beïnvloed deur gewelddadige voorvalle in die buiteland. Owerhede het daarna veiligheidsmaatreëls by toeriste-aantreklikhede verskerp. President Claudia Sheinbaum het besoekers se veiligheid gewaarborg. Die eerste plaaslike wedstryd word op 11 Junie in Mexikostad gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-653-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-700-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….