Nuus 13:00
BULLETIN 19 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra wêreldleiers om die Verenigde Nasies tot sy vorige glorie te herstel
# Afrika se eerste volledige multi-entstofaanleg gaan in Suid-Afrika gebou word
# En in rugby, die Blitsbokke deur na die eindstryd van die Hongkong Sewes
# President Cyril Ramaphosa het wêreldleiers versoek om die Verenigde Nasies te herstel tot sy posisie as die middelpunt van internasionale betrekkinge. Ramaphosa het die Globale Progressiewe Mobiliseringsitting in Barcelona, Spanje, toegespreek. Die president sê wêreldleiers moet vrede bevorder deur dialoog en diplomasie, deur die konsekwente toepassing van internasionale reg en die nakoming van die beginsels van die VN-Handves:
# COSATU het sy filiaal, die Nasionale Unie van Mynwerkers, gelukgewens met die bereiking van ‘n meerjarige salarisooreenkoms met Eskom. NUM het ‘n driejaar-salarisverhoging van sewe-persent vir werkers by die staatsbeheerde nutsmaatskappy onderteken. COSATU se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die ooreenkoms sal op 1 Julie in werking tree. Sy het bygevoeg die vakbond Solidariteit het ook die ooreenkoms onderteken, maar die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika het geweier en besluit om eerder ‘n dispuut te verklaar:
# Die Forum for South Africa het die ontslag en boete van 10-miljoen-rand deur die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure aan Sipho Malaba verwelkom, vir sy rol in die ineenstorting van VBS Mutual Bank. FOSA-leier Tebogo Msshilompane sê dit is nie geregtigheid nie, dit is slegs administratiewe straf. Hy sê die plundering van VBS in Thohoyandou, Limpopo, was nie ‘n tegniese mislukking nie, maar die gekoördineerde verraad van werkers, pensioenarisse en kwesbare gemeenskappe:
# Die Europese Beleggingsbankgroep, die Europese Kommissie en die Internasionale Finansieringskorporasie het ‘n finansieringsvennootskap aangekondig om Biovac se eerste volledige multi-entstofvervaardigingsaanleg vir Afrika in Suid-Afrika te bou. Biovac se bestuurshoof, Morena Makhoana, sê die projek sal Afrika se gesondheidsveiligheid versterk, entstofvervaardigingsvermoë uitbrei en toegang tot noodsaaklike inentings verbeter. Hy sê die nuwe aanleg sal betroubare entstofvoorraad vir Afrika verseker, terwyl vaardighede gebou, tegnologie-oordrag uitgebrei en entstof-vernuwing aangedryf word.
# Tennis: Dié week se Madridse Ope in Spanje moet sonder die plaaslike held Carlos Alcaraz en die driemalige kampioen Novak Djokovic van Serwië klaarkom. Hulle het weens beserings onttrek, wat vrese oor hul fiksheid laat ontstaan voor die kleibaan-Grand Slam-toernooi, die Franse Ope, wat op 24 Mei begin. Alcaraz het ‘n polsbesering opgedoen tydens verlede week se Barcelona Ope, en Djovic is reeds buite aksie sedert hy verlede maand ‘n skouerbesering opgedoen het. Na Madrid verskuif die kleibaanseisoen na Rome en dan na Roland Garros in Parys.
# Rugby: Die Blitsbokke het ‘n historiese plek in die eindstryd van die Hongkong Sewes verseker na ‘n kliniese 26–14 halfeindstrydoorwinning oor Nieu-Seeland. Tristan Leyds het die eerste punte aangeteken en die toon aangegee vir ‘n oorheersende vertoning deur die Suid-Afrikaners. Verdere drieë deur Sebastiaan Jobb, Shilton van Wyk en Ryan Oosthuizen het die Kiwi’s oorweldig, wat gesukkel het om deur die Blitsbokke se vasberade verdediging te breek. Die beslissende oorwinning bring Suid-Afrika ‘n bietjie nader aan hul eerste titel ooit in Hongkong, terwyl hulle voorberei vir die eindstryd teen Argentinië om 13:15 vanmiddag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….