Nuus 11:00
BULLETIN 19 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA verwelkom die inhegtenisneming van Mkhwanazi en eis sy onmiddellike ontslag
# Iran verskerp beheer oor die Straat van Hormoes
# En in rugby, gemengde welslae vir die Springbok-vroue-sewes in Hong Kong
# ActionSA in Ekurhuleni het die inhegtenisneming verwelkom, van die adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, op aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling. Die party vra verder ook vir die onmiddellike beëindiging van sy diens by die Stad. ActionSA se woordvoerder, Tumelo Tshabalala, sê die party is dankbaar vir die Madlanga-kommissie se besliste optrede in reaksie op die bewerings en getuienis wat voorgelê is:
Die Activists and Citizens Forum sê intussen Mkhwanazi se arrestasie moes lankal gebeur het. Volgens die woordvoerder Dennis Bloem het die Forum al lankal benadruk die ernstige bewerings deur verskeie getuies voor die Madlanga-kommissie, het ‘n baie ontstellende en gevaarlike prentjie van Mkhwanazi as ‘n misdadiger in polisie-uniform geskets:
# City Power in Johannesburg het inwoners versoek om die wet te respekteer, openbare infrastruktuur te beskerm en tegnici toe te laat om hul werk sonder intimidasie of inmenging te doen. Drie verdagtes is onlangs aangekeer vir die beskadiging van infrastruktuur by die Middestad-diensleweringsentrum. Woordvoerder Isaac Mangena sê geweld en vernielsug sal nie geduld word nie en het ernstige gevolge, insluitend vertragings in kritieke bedrywighede en verlengde reaksietye op onderbrekings wat ander gemeenskappe raak. Hy sê hulle sal voortgaan om te verseker dat alle aangemelde onderbrekings billike aandag kry.
# Iran sê hy het gister beheer oor die Straat van Hormoes verskerp en skeepsmaatskappye gewaarsku die noodsaaklike energieroete is weer gesluit. Intussen het die Amerikaanse president Donald Trump gesê Teheran kan Amerika nie afpers deur die waterweg te sluit nie. Teheran sê hy reageer op ‘n voortgesette Amerikaanse blokkade van Iranse hawens en noem dit ‘n skending van hul wapenstilstand. Die regering sê Iran se vloot is gereed om sy vyande “nederlae” toe te dien. Volgens skeepvaartbronne het minstens twee skepe berig hulle is aangeval en getref terwyl hulle probeer het om deur Hormoes te beweeg.
# Tennis: Andrey Rublev van Rusland en die Fransman Arthur Fils is deur na ‘n naelbyter-eindstryd by die Barcelona Ope nadat albei gister hard moes terugveg om oorwinnings te behaal. Rublev het die Serwiër Hamad Medjedovic met 3-6, 6-2, 6-2 geklop en is deur na sy eerste 2026-eindstryd. Kort daarna het Fils sy 100ste toervlak-oorwinning behaal deur die tuisgunsteling Rafael Jodar ook in drie stelle te klop. Die eindstryd vind vanmiddag om 4-uur plaas.
# Rugby: Die Springbok-vroue se sewesspan het Saterdag hul Groep B-wedstryde in Hongkong op ‘n sterk noot afgesluit deur Groot-Brittanje, een van die kernspanne in die Sewesreeks, met 19-5 by Kai Tak Sportpark te klop. Maar hulle het ‘n moontlike kwarteindstryd teen Spanje misgeloop, wat danksy ‘n beter punteverskil oor die twee dae, derde in hul groep klaargemaak het. Die Suid-Afrikaners het later gister weer teen Groot-Brittanje in die negende plek-halfeindstryd te staan gekom, maar hierdie keer het die Bok-vroue met 19-14 verloor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….