Nuus 13:00
BULLETIN 4 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê die aanstelling van die nuwe hoof van die Inkomstediens kom op ‘n kritieke tyd
# Mathews Phosa wil hê die mense moet die president regstreeks verkies
# En Iran beweer dat hy ‘n tweede Amerikaanse oorlogsvliegtuig oor die Golf afgeskiet het
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die aanstelling van doktor Ngobani Johnstone Makhubu as die nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens kom op ‘n unieke en uitdagende tydstip in die land se ekonomiese landskap. Makhubu, ‘n ervare veteraan binne die diens, sal na verwagting die leisels by Edward Kieswetter oorneem, wie se kontrak teen die einde van die maand verstryk. Godongwana sê Makhuba se aanstelling kom op ‘n tydstip dat die fiskale dissipline en bestendige hervormings van die afgelope paar jaar die stabilteit begin lewer wat nodig is vir vinniger groei en beleggings, te midde van wêreldwye onsekerheid.
# De voormalige tesourier-generaal van die ANC, Mathews Phosa, doen ‘n beroep op ‘n hersiening van die Grondwet in ‘n poging om Suid-Afrika se kiesstelsel te herstruktureer. Hy pleit vir die regstreekse verkiesing van die president deur middel van ‘n volkstemming deur burgers eerder as die huidige stelsel, waar die president gekies word op grond van politieke party-affiliasie. In ‘n onderhoud met eNCA het Phosa gesê hy glo die huidige stelsel laat te veel politieke onderduimsheid toe:
# Die minister van Staatsdiens en Administrasie, Inkosi Mzamo Buthelezi, het die instelling van die Wet op Openbare Administrasiebestuur en die Wysigingswet op die Staatsdiens verwelkom. Die wette wat Woensdag in werking getree het, is op ‘n professionele staatsdienssektor gemik deur magte na departementshoofde te verskuif en staatsamptenare te verbied om politieke ampte te beklee. Buthelezi sê die hervormings sal ‘n etiese en ontwikkelingsgerigte staatsdiens bevorder. Hy het ook beklemtoon dat meer werk nodig is om blywende verandering te bewerkstellig.
# Die Departement van Water en Sanitasie het gewaarsku teen godsdienstige en tradisionele rituele in riviere en damme, veral oor die Paastydperk, weens ernstige veiligheidsrisiko’s en hoë besoedelingsvlakke. Kerke beskou riviere en damme as heilige plekke vir rituele, insluitend reiniging, gebed en om hul voorouers te kontak. Adjunkminister, Sello Seitlholo, het aan Newzroom Afrika gesê besoedelde water beïnvloed nie net waterspesies nie, maar kan ook skadelik wees vir mense:
# Iran sê hulle het ‘n tweede Amerikaanse oorlogsvliegtuig oor die Golf afgeskiet. Dit volg nadat hulle verantwoordelikheid aanvaar het vir die afskiet van ‘n tweesitplek Amerikaanse F-15-vegvliegtuig. Die vlieënier is deur Amerikaanse magte gered, en ‘n soek-en-reddingsmissie is aan die gang vir nog ‘n bemanningslid. Daar is tydens die soek-en-reddingsmissie op ‘n Amerikaanse A-10 Warthog geskiet. Die Warthog-vlieënier het oor die Persiese Golf uitgeskiet en is suksesvol gered. Iran sê die vliegtuig is afgeskiet toe sy lugverdedigingstelsels dit naby die Straat van Hormoes geteiken het.
# En rugby: Die Springbok-skrumskakel Cobus Reinach keer vandag ná ‘n besering terug na die Stormers. Dit is een van verskeie veranderinge vir hul Kampioenebeker-ronde van 16-wedstryd teen RC Toulon in Frankryk. Sy spanmaat is Jurie Matthee en hulle vorm ‘n splinternuwe skakelpaar. Voorlangs is die stutte Neethling Fouché en Oli Kebble in die beginspan, terwyl Deon Fourie dekking bied vir die beginhaker André-Hugo Venter. Connor Evans begin langs Adré Smith in die tweede ry, met Hacjivah Dayimani wat vir die eerste keer vir die beginspan uitdraf sedert sy terugkeer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….