Nuus 11:00
BULLETIN 4 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die African Transformation Movement eis ‘n ondersoek na minister Tolashe se voertuie
# Die Nasionale Taxi-alliansie versoek lede om te verseker dat hul voertuie padwaardig is
# En krieket: Die Nieu-Seelandse vrouespan beklink ‘n 2-1 eendag-reeksoorwinning teen Suid-Afrika
# Die African Transformation Movement het aan die Parlement se Etiekkomitee geskryf en ‘n dringende ondersoek geëis na die gedrag van die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe. Volgens die Daily Maverick het die minister valslik aan die Parlement gesê dat sy twee luukse voertuie van Chinese amptenare as skenkings vir die ANC-vroueliga aanvaar het. In werklikheid lyk dit egter asof die motors aan Tolashe se twee kinders vir hul persoonlike gebruik gegee is sonder dat dit ooit verklaar is. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die minister moet aanspreeklik gehou word:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap het bevestig die sosiale media-persoonlikheid, Musawenkosi Khawula, is steeds op vrye voet, met ‘n moordklag van 2022 wat oor sy kop hang. ‘n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik nadat Khawula, bekend vir sy skinderstories en aanlyn kommentaar oor bekendes, nie in die Vredenburgse-landdroshof verskyn het nie. Khawula, is op borgtog uit en staan tereg op aanklagte wat verband hou met die dood van sy voormalige lewensmaat. Die polisie soek steeds na hom, en die NVG sê sy afwesigheid verhinder geregtigheid.
# Die Nasionale Taxi-alliansie doen ‘n beroep op sy lede om te verseker dat hul voertuie padwaardig is, met duisende pendelaars wat die Paasnaweek reis. Die alliansie se woordvoerder Theo Malele sê operateurs verwag hoë passasiersvolumes en moet veiligheid vooropstel. Malele het bestuurders aangeraai om gereeld te rus om moegheid te voorkom en voertuie voor ritte te inspekteer. Hy waarsku ook dat stygende brandstofpryse winsmarges beïnvloed, terwyl hy ‘n beroep doen op veilige bestuur en mik na ‘n Paastydperk sonder ongelukke.
# Die vertroue onder kontrakteurs in die siviele bousektor het afgeneem. Die siviele vertrouensindeks wat deur FNB en die Buro vir Ekonomiese Navorsing saamgestel is, het in die eerste kwartaal tot 43 gedaal vanaf 52 aan die einde van 2025. Volgens Statistiek Suid-Afrika was die werklike waarde van beleggings in siviele bouwerk in die vierde kwartaal van 2025 slegs 0,2-persent jaar-op-jaar af, vanaf ‘n inkrimping van 2,9-persent in die derde kwartaal. Die FNB senior ekonoom, Siphamandla Mkhwanazi, sê dit is teleurstellend:
# Die Verenigde Nasies het die belangrikheid van die Golf-streek vir internasionale vrede en veiligheid en die noodsaaklike rol daarvan in die bestendigheid van die wêreldekonomie beklemtoon. Iran voer daagliks missiel- en hommeltuigaanvalle regoor die Midde-Ooste uit, insluitend Arabiese Golflande, sedert die VSA en Israel op 28 Februarie ‘n oorlog teen die land begin het. Die VN se assistent-sekretaris-generaal vir die Midde-Ooste, Khaled Khiari, sê toenemende vyandelikhede in die streek hou ‘n akute en vinnig groeiende bedreiging in vir internasionale vrede en veiligheid:
# En krieket: Die Nieu-Seelandse Vroue het Suid-Afrika met 66 lopies in die derde en laaste eendagwedstryd in Wellington verslaan om die reeks met 2-1 te beklink. Maddy Green het die aanval vir die gasvroue gelei en ‘n onoorwonne loopbaanbeste van 141 van slegs 128 balle aangeteken. Sy het ook ‘n vennootskap van 211 lopies met Brooke Halliday gedeel, terwyl die Wit Varings 306 vir sewe in 50 boulbeurte aangeteken het. Daarna het Laura Wolvaardt uitgeblink met 69, maar dit was nie genoeg nie, want die Protea-vroue is vir 240 in die 47ste boulbeurt uitgeboul.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….