Nuus 13:00
BULLETIN 3 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kabinet veroordeel die onaanvaarbare gedrag van Nigeriërs in Suid-Afrika
# Die Spesiale Tribunaal stel ‘n 14-miljoen-rand tender tussen Mpumalanga-gesondheid en die Tark Group tersyde
# En rugby: Eben Etsebeth keer terug ná sy skorsing om by die Haaie teen Connacht aan te sluit
# Die Kabinet het die aankondiging van die kroning van ‘n Nigeriër as hoofman in KuGompo-stad in die Oos-Kaap veroordeel en sê dit is onregmatig en sonder regsgronde. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê tradisionele leierskap word streng gereguleer kragtens die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap. Die Kabinet neem kennis van die verskoning van die Nigeriese Hoë Kommissaris en bepleit voortgesette diplomatieke betrokkenheid. Sy waarsku teen geweld wat met die voorval verband hou:
# Die Spesiale Tribunaal het ‘n omstrede tender van Covid-19 Persoonlike Beskermende Toerusting ter waarde van 14-miljoen-rand tersyde gestel. Dit hou verband met Nomvula Mokonyane van die ANC se dogter, Katleho Mokonyane, en haar sakevennoot, Bonelela Mgudlwa, deur hul maatskappy Tark Group. Die Department van Gesondheid in Mpumalanga het die kontrakte toegeken en dit is onwettig verklaar weens onreëlmatighede. Die maatskappy het voordeel getrek uit mislukkings in verkrygingsprosesse en nakoming. Die tribunaal se woordvoerder Selby Makgotho sê die twee moet die geld aan die staat terugbetaal:
# Die hoofekonoom by Econometrix, Azar Jammine, verwelkom die aanstelling van Johnstone Makhubu as die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se kommissaris en beskryf dit as ‘n meriete-gebaseerde besluit. Jammines het in ‘n onderhoud met SABC News gesê Makhubu se ervaring en bevoegdheid plaas hom in ‘n goeie posisie om die instelling te lei. Hy merk op SAID het van vorige uitdagings herstel en is op ‘n opwaartse pad, maar daar is steeds struikelblokke, insluitend belastingontduiking en om aan te pas by nuwe tegnologieë in ‘n uitdagende ekonomiese omgewing:
# Die Wes-Kaapse regering het 15-miljoen-rand toegewys vir die opgradering van die Nuweland-krieketveld en Bolandpark in die Paarl voor die 2027-Krieketwêreldbekertoernooi vir mans. Ooreenkomste is met krieketinstansies onderteken om befondsing af te handel. Die LUR, Ricardo Mackenzie, sê die belegging sal ‘n hupstoot wees vir die ekonomie en werksgeleenthede, terwyl wêreldklasfasiliteite verseker word vir spelers, amptenare en ondersteuners tydens die toernooi:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het die Prokureur-generaal Pam Bondi uit haar pos as Amerika se top wetstoepassingsbeampte verwyder. Bondi word beskou as ‘n langdurige bondgenoot en vurige verdediger van sy administrasie. Trump het haar geprys in ‘n plasing op Truth Social en sê sy verskuif na ‘n rol in die privaat sektor. Bondi se tyd as leier van die Departement van Justisie was dikwels oorskadu weens die hantering van lêers wat vrygestel is oor die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein. Bondi se voormalige adjunk, Todd Blanche, sal by haar oorneem.
# En, rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth is vanaand terug by die Haaie vir hul ronde van 16 in die Uitdaagbeker-reeks teen Connacht in Galway. Dit volg na hy vir 12 wedstryde geskors was oor ‘n vinger-in-die-oog voorval teen Wallis. Hy is een van die 13 veranderings wat die hoofafrigter JP Petersen aan die beginspan gemaak het. Agtsteman Nick Hatton is die kaptein van die span en behou soos Makazole Mapimpi sy beginposisie. Die jong speler Hakeem Kunene begin op heelagter om ‘n beduidende beseringskrisis in daardie posisie te beredder. Afskoptyd is om 9-uur vanaand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….