Nuus 13:00
BULLETIN 29 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika moet interne sterkte bevorder teen globale magte
# Die VF Plus sê Tshwane se onrealistiese tariefverhogings kan huishoudings tot 450-rand meer per maand kos
# En krieket, die Protea-vroue behaal ’n naelbyt-oorwinning teen Nieu-Seeland in die eerste eendagwedstryd
# President Cyril Ramaphosa sê hoewel die regering geen beheer het oor globale magte in die Midde-Ooste wat wêreldwye oliepryse opjaag nie, sê hy die land moet op sy plaaslike kragte konsentreer. Hy het die ANC in Durban toegespreek. Ramaphosa sê stygende brandstof- en oliepryse beperk die regering se fiskale ruimte om sy mandaat te vervul:
Hy sê die regering sal voortgaan om die Palestyne, Kuba en Soedan te ondersteun terwyl konflik in die lande voortduur. Hy het by die ANC in Mpumalanga se verkiesingskonferensie in Mbombela gepraat. Ramaphosa sê Suid-Afrika se buitelandse beleid is gebaseer op die beginsels van aktiewe onpartydigheid, die bevordering van menseregte, en beskerming van nasionale soewereiniteit eerder as druk van eksterne magte:
# # Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê die metro se voorgestelde 2026/27-konsepbegroting kan inwoners se maandelikse huishoudelike uitgawes na raming met 300- tot 450-rand verhoog. Die VF Plus-woordvoerder Grandi Theunissen sê die voorgestelde verhogings is 10,8-persent vir water, 8,8-persent vir elektrisiteit, 5-persent vir sanitasie, 5-persent vir eiendomsbelasting en 4,1-persent vir vullisverwydering:
# Motorsport: Mercedes se tienersensasie, Kimi Antonelli, het by die Japannese Grand Prix Formule 1-geskiedenis gemaak toe hy sy tweede agtereenvolgende oorwinning behaal het, en die eerste keer in die Bestuurderskampioenskap voorloop. Die 19-jarige Italianer het na ‘n teleurstellende wegspring in Suzuka gebruik gemaak van ʼn veiligheidsmotorperiode om weer voor te jaag. McLaren-renjaer Oscar Piastri was tweede en spog met sy eerste podiumplek van die seisoen. Charles Leclerc van Ferrari was derde met Antonelli se spanmaat, George Russell, vierde. Lando Norris het vyfde klaargemaak en Lewis Hamilton was sesde.
# Krieket: Die Protea-vroue het ʼn naelbyt-oorwinning van twee paaltjies oor Nieu-Seeland behaal in die eerste eendagwedstryd by Hagley Oval. Suid-Afrika het die teiken van 269 in die laaste boulbeurt bereik en loop met 1-0 voor in die reeks van drie wedstryde. Ayabonga Khaka se ses vir 56 is die beste van haar loopbaan en het die White Ferns beperk. Annerie Dercksen het 72 bygedra en Suné Luus 53. Kayla Reyneke op 42, nie uit nie, het die oorwinning beklink en sy is as Speler van die Wedstryd gekroon.
# En ten slotte, die Stad Kaapstad moedig sokkeraanhangers aan om van openbare vervoer gebruik te maak vir die FIFA internasionale vriendskaplike wedstryd tussen Bafana Bafana en Panama op die Kaapstad-stadion Dinsdag. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê die stad stel ‘n gratis MyCiTi-pendeldiens bekend. Die wedstryd begin om half-agt die aand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….