Nuus 13:00
BULLETIN 16 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi vra Ramaphosa om omvang van ondersoek na Polisiediens bekend te maak
# Die SAKP pak die ANC in ‘n geskiedkundige tussenverkiesing in Polokwane
# En rugby: Johan Ackermann word aangestel as nuwe hoofafrigter van die Bulle
# RISE Mzansi sê president Cyril Ramaphosa moet dringend die omvang van die regterlike kommissie van ondersoek na die Polisiediens publiseer sodat dit met sy werk kan begin. Die kommissie sal die rol van huidige of voormalige senior ampsdraers in sekere instellings ondersoek wat moontlik beweerde misdadige bedrywighede aangehelp of aangemoedig het. Makashule Gana van RISE Mzansi sê dis van die uiterste belang dat alle prosesse wat tot die parlementêre en regterlike ondersoeke lei, die regte prosedure moet volg:
Die DA sê intussen die polisie het bevestig dat sy strafregtelike aanklagte teen die minister van Polisie, Senzo Mchunu, nou ondersoek word. Die minister is op spesiale verlof geplaas te midde van bewerings van korrupsie en politieke inmengery in ondersoeke. Baxolile Nodada van die DA sê Mchunu, soos alle ander Suid-Afrikaners, moet die land se wette gehoorsaam en as wette oortree word, moet dit strafregtelik ondersoek word:
# Die SAKP pak sy alliansievennoot, die ANC, vandag in ‘n hewig betwiste tussenverkiesing in Wyk 13 in Polokwane, Limpopo. Dit is die SAKP se eerste onafhanklike verkiesing sedert hy verlede jaar sy verkiesingsbande met die ANC verbreek het. Sy kandidaat, Obed Thabana, het swak dienslewering gekritiseer, en Reuben Madadzhe van die ANC het kiesers aangespoor om die party nog ‘n kans te gee. Die setel is vakant nadat Mafiwa Leballo van die EFF uit die party geskop is. Die EFF-leier, Julius Malema, sal na verwagting in sy tuiswyk stem.
# Die direkteur-generaal van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Zane Dangor, sê die misdaad van volksmoord, oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en die misdaad van apartheid is nie ingewikkeld nie; dit is bloot onwettig. Hy het gepraat op die Haagse Groep se noodkonferensie in Colombië wat daarop gemik is om die volksmoord in Gaza te stop. Dangor sê die feit dat Israel besluite van die howe en die Verenigde Nasies sonder gevolge kan ignoreer, skaad die integriteit van internasionale reg:
# Rugby: Die Bulle het die driemalige Suid-Afrikaanse Afrigter van die Jaar, Johan Ackermann, as nuwe hoofafrigter aangestel. Jake White en die Bulle het vroeër die maand ooreengekom dat hulle paaie na vyf jaar skei nadat hy die span tot drie Verenigde Rugbykampioenskaps-eindstryde in vier seisoene gelei het. Ackermann beskryf sy aanstelling as ‘n droom wat waar geword het. Die Blou Bulle-maatskappy se uitvoerende hoof, Edgar Rathbone, sê Ackermann is nie net ‘n uitstekende breier nie, maar ook ‘n leier wat die waardes van die unie uitleef.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-en-52-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….