Nuus 13:00
BULLETIN 15 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola vra die SAOG-streek om die stryd teen honger te versterk
# ‘n Japanse minister besoek die omstrede Yasukuni-heiligdom op die herdenking van die Tweede Wêreldoorlog-oorgawe
# En rugbynuus, ‘n All Black-veteraan sien uit na taktiese uitdagings in vandag se wedstryd teen die Bulle
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap gevra om die stryd teen honger te versterk. Die minister het in sy afsluitingsrede tydens die vergadering van die SAOG-ministersraad in Durban, KwaZulu-Natal, die vordering geloof wat Tanzanië, Zambië, Zimbabwe en Namibië gemaak het in hul pogings om honger te bekamp. Lamola sê 58-miljoen mense in die streek leef egter steeds met die onsekerheid of daar kos op die tafel gaan wees:
# Die EFF sê die bekendmaking dat eksterne vennote 445,57-miljoen-rand aan presidensiële projekte verskaf het, bevestig president Cyril Ramaphosa se administrasie stel toenemend staatsinstellings oop aan privaat en buitelandse belange. Die party sê hy verwerp wat hy noem die privatisering van staatsondernemings, die verwestering van die ekonomie en die imperialistiese invloed op Suid-Afrika se ekonomiese beleid. Volgens die EFF is Eskom en Transnet strategiese staatsbates wat versterk moet word, eerder as om plek te maak vir privaat ondernemings. Die party sê die regering moet sy eie tegniese kundigheid en vermoëns opbou en nie beleidsvorming uitkontrakteer aan ondernemings, buitelandse regerings en miljardêrs nie.
Intussen sê Eskom Suid-Afrika beweeg geleidelik nader aan die somer, maar die kragvoorsiener voldoen steeds aan die vraag tydens winterspitstye en handhaaf volgehoue energiesekerheid regoor die land. Eskom sê dit is te danke aan sy fokus op bedryfs- en finansiële volhoubaarheid namate sy omkeerplan vorder. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dié prestasies weerspieël Eskom se progressiewe verskuiwing van herstel na betroubaarheid en volhoubaarheid as gevolg van sterker prestasie van die energiebeskikbaarheidsfaktor:
# Japan se minister van Verdediging, Shinjiro Koizumi, het die omstrede Yasukuni-heiligdom besoek ter herdenking van Japan se oorgawe in die Tweede Wêreldoorlog. Die heiligdom bring hulde aan sowat 2,5-miljoen Japannese wat in die oorlog dood is, insluitend 14 leiers wat skuldig bevind is aan ernstige oorlogsmisdade. China en Suid-Korea sê hierdie besoeke verbloem Japan se gewelddadige optrede tydens die oorlog en benadeel diplomatieke betrekkinge. Die eerste minister, Sanae Takaichi, het nie die heiligdom besoek nie, maar wel ‘n rituele offer gestuur. Die laaste sittende Japannese eerste minister wat Yasukuni besoek het was Shinzo Abe in 2013. Die Amerikaanse president, Barack Obama, het hom destyds daaroor gekritiseer.
# Rugby: Die veteraan All Black-senter Anton Lienert-Brown sien uit na die taktiese uitdaging deur die Bulle se heelagter Willie le Roux en losskakel Curwin Bosch in vanaand se kragmeting op Loftus Versfeld in Pretoria. Hy verwag ‘n wedstryd met baie skoppe wat dinge vir die besoekers moeilik sal maak. Lienert-Brown beskryf Le Roux, ‘n Springbok-veteraan van 101 toetse, as een van rugby se slimste spelers, en sê Bosch, wat twee toetse gespeel het, het ‘n baie sterk skopskoen. Hy sê Suid-Afrika se vastespel en groot spelers het nie verander sedert hy uit Super Rugby weg is nie.
En in nog rugbynuus, Australië het Japan in Townsville met 56-17 verpletter nadat die Wallabies die tweede helfte oorheers en 35 agtereenvolgende punte aangeteken het. Die Wallabies was teen rustyd voor met 21-17, maar het ná rustyd nog vyf drieë gedruk. Die stut Taniela Tupou het twee drieë gedruk, met Josh Nasser, Angus Bell, die nuweling Massimo De Lutiis, Charlie Cale, Harry Wilson en Brandon Paenga-Amosa wat ook elkeen een bygedra het. Die oorwinning beteken Australië het vir die eerste keer sedert 2024 drie agtereenvolgende oorwinnings behaal. Dit is goeie nuus vir afrigter Les Kiss terwyl Australië voorberei vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi op eie bodem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….