Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gauteng gaan drie-duisend MK-veterane ontplooi om misdaad te beveg
# Corruption Watch wil by die Tesourie weet waarom Edwin Sodi se firmas nog nie op die swartlys is nie
# En, sokker: Kaapstad gaan gasheer speel vir Palestynse nasionale span vir vertoonwedstryde
# Die ANC se Gautengse voorsitter, Panyaza Lesufi, sê hy gaan drie-duisend uMkhonto weSizwe-veterane aanstel om misdaad in die provinsie te bekamp. Hy het die naweek op ‘n vergadering in die Orlando-Wes-gemeenskapsaal gepraat wat deur ANC-vrywilligers in Groter-Johannesburg bygewoon is. Dis deel van die regerende party se verkiesingsveldtog. Lesufi sê buiten die werwing van MK-veterane, het die provinsiale regering reeds beloof om 35-duisend werkers weer aan te stel. Hy sê dit sluit onderwysers en verpleegkundiges in wie se kontrakte verstryk het:
# Corruption Watch het aan Nasionale Tesourie geskryf om vas te stel waarom die omstrede sakeman, Edwin Sodi, se maatskappye NJR Projects en Blackhead Consulting nog nie op die swartlys is nie. Sodi se maatskappye en vennoot, CMS Water Engineering, het ʼn tender van 290-miljoen-rand ontvang om die Rooiwal-watersuiwerings-aanleg in Tshwane op te knap. Slegs 60-persent van die eerste fase is voltooi, ten spyte van die 291,4-miljoen-rand wat die Stad Tshwane reeds betaal het. Corruption Watch sê hy wil ook weet wat die praktiese gevolge is vir maatskappye en direkteure wat op die beperkte verskaffersregister geplaas is.
# Iran sê hy was nie betrokke by gister se hommeltuig-aanval in Jordanië waarin drie Amerikaanse militêre personeel dood en tientalle gewond is nie. Die Amerikaanse president, Joe Biden, en die Britse minister van Buitelandse Sake, David Cameron, het groepe wat deur Iran gesteun word, die skuld gegee. Iran se woordvoerder van Buitelandse Sake, Nasser Kanaani, sê hulle het niks daarmee te doen gehad nie. Die Irans-gesteunde Islamic Resistance in Iraq, het egter aanspreeklikheid aanvaar. Dit was die eerste Amerikaanse lewensverlies weens vyandige optrede sedert die begin van die oorlog in Gaza.
# Sokker: Die Palestynse nasionale span gaan volgende maand twee vertoonwedstryde teen plaaslike uitnodigingspanne speel op die Athlone-stadion in Kaapstad . Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging beplan dit vir die 11de en 18de. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die stad sal geen huurgeld vir die stadion vra nie en 400-duisend-rand se ondersteuningsdienste soos verkeers- en afvalbestuur beskikbaar stel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-117-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-78-sent per vat.
# Ten slotte: Die Deense firma, Too Good To Go, het ‘n Kunsmatige Intelligensie-aangedrewe oplossing bekendgestel vir die bestuur van vervaldatums, ‘n sleuteluitdaging in kleinhandel-voedselvermorsing. Die maatskappy beoog om supermarkte te help om onontginde inkomstestrome te benut deur produkte naby aan hul vervaldatum te verkoop. Too Good To Go begin sy wêreldwye bekendstelling met die internasionale supermarkketting SPAR. Die maatskappy hoop dat supermarkte K-I sal aangryp om voedselvermorsing te verminder deur goedere te verkoop wat byna verval.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….