Nuus 08:00
BULLETIN 16 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA behaal ‘n groot verkiesingsoorwinning in die hof
# Die Nasionale Dobbelraad sê jongmense word steeds uitgesluit uit die ekonomie
# En rugby, die All Blacks behaal ‘n groot oorwinning oor die sukkelende Bulle
# Die DA het die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria verwelkom waarvolgens sleutelaspekte van OKOSA se verkiesingsuitsaairegulasies ongrondwetlik en onwettig verklaar is. Ashor Sarupen van die DA sê die Hof het verligting toegestaan deur ‘n dringende meganisme te skep vir geskille oor politieke advertensies en partyverkiesingsuitsendings wat afgekeur is. Hy sê daar is ook bevind dit is onwettig en ongrondwetlik om lede van die publiek en openbare belange-organisasies uit te sluit om politieke uitsendings uit te daag of af te keur:
# Die Nasionale Dobbelraad vra die regering om dringend aandag te skenk aan die krisis van jongmense wat steeds uitermate swaar deur ekonomiese uitsluiting getref word. Die raad se waarnemende uitvoerende hoof, Lungile Dukwana, moedig jong Suid-Afrikaners aan om nie sportweddenskappe en ander vorme van dobbelary as ‘n alternatief vir ‘n inkomste te beskou nie. Hy sê die organisasie se studie oor die sosio-ekonomiese uitwerking van dobbelary in Suid-Afrika in 2023/24 beklemtoon die noodsaaklikheid van groter bewusmaking onder jonger Suid-Afrikaners.
# Die Forum for South Africa eis die onmiddellike heraanstelling van die geskorste nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, hangende die afhandeling van alle regs- en tugprosesse. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê getuienis wat voor die Madlanga-kommissie gelewer is, het ernstige vrae laat ontstaan oor die optrede en motiewe van sekere individue. Hy sê die getuienis wat tot dusver aangehoor is, dui aan daar was moontlik ‘n doelbewuste poging om Masemola uit sy amp te verwyder:
# Die Forum for South Africa sê werkloosheid is ‘n maatskaplike krisis wat bydra tot armoede, misdaad, ongelykheid, dwelmmisbruik en wanhoop onder miljoene Suid-Afrikaners. Statistiek Suid-Afrika sê die amptelike werkloosheidsyfer het gestyg van 32,7-persent in die eerste kwartaal hierdie jaar tot 33,6-persent in die tweede kwartaal. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, vra al drie vlakke van die regering om verder as beloftes te gaan en praktiese oplossings in te stel wat volhoubare werksgeleenthede sal skep:
# Die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Un, en die Russiese president, Vladimir Putin, het hul noue bande herbevestig in boodskappe ter viering van Korea se Bevrydingsdag. Die twee leiers het boodskappe uitgeruil op die 81ste herdenking van Korea se bevryding van Japanse koloniale bewind in 1945. Hul jongste kontak volg terwyl Noord-Korea en Rusland politieke en militêre samewerking versterk. Die Suid-Koreaanse president, Lee Jae Myung, het intussen Bevrydingsdag gebruik om dialoog met Pyongyang te te vra en ‘n beroep gedoen op samesprekings om die Koreaanse Oorlog formeel te beëindig en Noord-Korea se kernprogram te beperk.
# En ten slotte, rugbynuus:
# Die All Blacks het ‘n massiewe oorwinning van 50-19 oor die Bulle in Pretoria behaal en hul onoorwonne Suid-Afrikaanse toer voortgesit. Nieu-Seeland het ‘n oorheersende vertoning gelewer en agt drieë gedtruk teen ‘n Bul-span wat gesukkel het om die mas op te kom. Die oorwinning versterk die All Blacks se momentum voor hul hoogs verwagte viertoets-reeks teen die Springbokke. Nieu-Seeland het nou die Stormers, Haaie en Bulle op toer geklop. Hul sal nou hul aandag op die wêreldkampioen Springbokke vestig, met die eerste toets wat vir 22 Augustus op Ellispark in Johannesburg geskeduleer is.
# En, die Pumas het hul veldtog om die Curriebeker-titel versterk met ‘n oortuigende oorwinning van 29-7 oor die Stormers-23 in Mbombela. Die Pumas het met rustyd met 15-0 voorgeloop en die tweede helfte oorheers ten spyte van ‘n kort terugkeer deur die Stormers. Nevaldo Fleurs het sy merk gemaak, akkuraat geskop en gehelp om drieë vir Thomas Bursey en Banie Britz op te stel. Jan-Henning Campher en JJ Scheepers het ook drieë vir die gashere gedruk. Die bonuspunt-oorwinning plaas die Pumas, met twee rondes oor, tweede op die punteleer, vier punte agter die verdedigende kampioene die Griekwas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….