Nuus 13:00
BULLETIN 7 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Defend Our Democracy vra vir meer staatskapingsarrestasies
# Tax Justice SA verwelkom vakbonde se oproep vir toesighouding oor produksie in sigaretfabrieke
# En motorsport: George Russell neem eerste wegspringplek in die Australiese Grand Prix
# Defend Our Democracy doen ‘n beroep op die Nasionale Vervolgingsgesag om meer arrestasies uit te voer op mense wat by staatskaping betrek word. Die belangegroep het gereageer op die vervolging van ‘n voormalige parlementslid, Vincent Smith, wat hierdie week tot sewe jaar tronkstraf gevonnis is vir sy rol in die Bosasa-korrupsieskandaal wat met staatskaping verband hou. Woordvoerder Andries Sibanyoni sê mense wat by staatskaping betrek word, het te lank reeds aanspreeklikheid ontduik en openbare vertroue in die regering ondermyn:
# Tax Justice South Africa het vakbonde se oproep vir verpligte produksiemonitering in sigaretfabrieke verwelkom. Die woordvoerder van die belangegroep, Yusuf Abramjee, sê dit sal sigaretvervaardigers ontmasker wat beweer dat die instelling van toesigkameras ‘n inbreuk op privaatheid sou wees:
# AfriForum waarsku dele van die Stad Ekurhuleni kan kragonderbrekings ondervind as die stad nie sy skuld van 3,4-miljard-rand aan Eskom delg nie. Die organisasie waarsku dat swak finansiële bestuur die elektrisiteitsvoorsiening aan Alberton, Boksburg-Noord, Germiston-Suid en Kempton Park bedreig. Nadia Olckers van AfriForum eis ‘n terugbetalingsplan, beskerming vir inwoners wat betaal en maatreëls om verdere skuld te voorkom, en dreig met regstappe as die krisis nie opgelos word nie:
# Die Universiteit van die Wes-Kaap sê armoede, lang reisafstande na klinieke, lae geletterdheidsvlakke onder ouers en die verspreiding van waninligting op sosiale media staan in die pad van kinderinenting. Volgens ‘n universiteitsgeleide studie bly baie kinders onbeskermd teen voorkombare siektes soos masels en polio. Navorser Bridgette Lockett sê dit sluit ook in gevaarlike lugweg-infeksies wat lewensgevaarlike siektes soos breinvliesontsteking kan veroorsaak.
# Lede van die Europese Unie wat by die VSA en Israel se aanvalle op Iran aansluit, sal “wettige teikens” vir Iran word. Die land se adjunkminister van Buitelandse Sake, Majid Takht-Ravanchi, het in ‘n onderhoud met die TV-stasie France 24 gewaarsku dat enige land wat by Amerika en Israel aansluit in die aggressie teen Iran, beslis wettige teikens vir vergelding sal word. Sommige EU-lande, soos Frankryk, Griekeland en Italië, het oorlogskepe na die Midde-Ooste gestuur, maar die meeste EU-topamptenare het Iranse aanvalle in die streek veroordeel en ‘n diplomatieke oplossing versoek.
# En motorsport: George Russell het vir die eerste wegspringplek in die Australiese Grand Prix gekwalifiseer, voor sy Mercedes-spanmaat Kimi Antonelli. Die viermalige wêreldkampioen Max Verstappen het ‘n ongeluk gemaak en is 20ste op die wegspringrooster . Verstappen se Red Bull-spammaat, Isack Hadjar, het derde gekom in ‘n chaotiese kwalifiseringswedren na die grootste regulasie-skommeling wat die sport in jare gesien het. Die verdedigende F1-kampioen, Lando Norris, het vir die 6de plek gekwalifiseer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….