Nuus 13:00
BULLETIN 27 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê Paul O’Sullivan kan ‘n boete of tronkstraf kry vir minagting van die Parlement
# Geordin Hill-Lewis betree die wedloop om die DA-leierskap
# En krieket: Sri Lanka se kaptein sê die span is geestelik geskaad as gevolg van genadelose kritiek
# Die EFF sê die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan se beweerde minagting van die Parlement omdat hy uit die ad hoc-komitee se verhore gestap het, beteken ‘n moontlike boete, gevangenisstraf of albei. Adjunk-sekretaris-generaal, Leigh-Ann Mathys, het ‘n saak ingedien in die Kaapstad-Sentraal-polisiestasie. Sy bevestig ‘n regsmening is voorgelê aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, en sê die komitee sal Maandag vergader om oor die volgende stappe te besluit:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die wedloop betree om John Steenhuisen as DA-leier op te volg. Hy sal verkiesbaar wees op die party se verkiesingskongres in April. Hill-Lewis vra ‘n mandaat om ‘n kragtige DA te bou, en voer aan ‘n sterker party sal help om ‘n sterker Suid-Afrika te bou. Hy het beloof om te bewys die DA regeer doeltreffend en lewer diens aan alle burgers:
# Die Mitchells Plainse Streekshof in Kaapstad het ‘n leerdervervoer-bestuurder, Mninikhaya Mvuli, tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis nadat ses leerders in 2023 in ‘n ongeluk gesterf het. Hy is skuldig bevind op ses aanklagte van strafbare manslag nadat hy beheer verloor en teen ‘n boom, verkeersligte en ‘n bus gebots het. Bewyse toon Mvuli het teen 101-kilometer per uur gery al is hy verbied om te bestuur weens stuiptrekkings. Vier jaar van sy vonnis van nege jaar is opgeskort en hy mag tot 2036 nie bestuur nie.
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê brandbestryders maak goeie vordering met die brand tussen Montagu en Barrydale. Koel oornagtemperature het die pogings aansienlik vergemaklik. Jo-Anne Otto van die munisipaliteit sê brand- en grondspanne het deur die nag gewerk omdat die brand in die rigting van eiendomme en infrastruktuur beweeg het. Sy sê in hierdie stadium is daar geen aktiewe vlamme op privaat grond nie:
# Krieket: Sri Lanka se kaptein, Dasun Shanaka, sê die spelers is geestelik geskaad deur die meedoënlose kritiek op die medegasheer van die T20-Wêreldbekertoernooi. Hulle het nie vir die halfeindronde gekwalifiseer nie nadat hulle Woensdag teen Nieu-Seeland verloor het in die Super-agt-fase. Shanaka sê hulle was voor die toernooi reeds onder druk toe hulle vyf van hulle ses witbalwedstryde teen Engeland verloor het. Hy het die ondersteuners om verskoning gevra vir hul swak vertoning, maar sê die situasie het so versleg dat die owerhede nou moet ingryp.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-91-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-64-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-179-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….