Nuus 13:00
BULLETIN 10 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan beskryf sy aanklaers as misdadigers
# Suid-Afrika se plek bly onveranderd op die korrupsie-aanwyser
# En krieket: Nederland behaal ‘n maklike oorwinning oor Namibië in Delhi
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan beskryf die mense wat hom beskuldig as misdadigers. Hy het met SABC News gepraat voor sy getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee. O’Sullivan sê hy het 36-jaar lank misdaad ondersoek en gehelp om senior polisiebeamptes agter tralies te sit. Hy sê hernude aanvalle weerspieël vorige teistering, en dat die onwettige besit van telefoonrekords strafregtelik is. O’Sullivan sê hy sal die waarheid aan die komitee ontbloot:
# Transparency International se Korrupsie-sienings-aanwyser toon dat korrupsie wêreldwyd ‘n ernstige bedreiging bly. Die lys rangskik 182 lande en gebiede wêreldwyd volgens hul waargeneme vlakke van korrupsie in die openbare sektor. Suid-Afrika se telling is 41, dieselfde as in 2024, en steeds onder die wêreldgemiddeld. Corruption Watch se uitvoerende direkteur, Lebogang Ramafoko, sê vanjaar se uitslae toon dat die meerderheid lande nie daarin slaag om korrupsie onder beheer te hou nie:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement is besig om skoolplasings af te handel nadat hulle ‘n buitengewoon hoë aantal laat aansoeke ontvang het. Sedert verlede maand is meer as 26-duisend graad R-, een- en agt-leerders regoor die provinsie geplaas. Meer as 99-persent van graad een- en graad agt-leerders is reeds geplaas. Bronagh Hammond van die departement het die publiek versoek om amptenare toe te laat om die oorblywende plasings te voltooi en te verseker dat elke leerder geplaas word:
# SA Airlink het aangekondig al sy vlugte na en van St Helena is tot verdere kennisgewing opgeskort weens veiligheidsoorwegings op die lughawe. Die regering van die eiland in die Atlantiese Oseaan sê ‘n tegniese inspeksie het bevind die brandbestrydingsvermoë voldoen nie aan internasionale veiligheidsvereistes nie, wat vlugte tot minstens volgende Vrydag kan ontwrig. SA Airlink sê reisigers wat hulp benodig, moet hul besprekingskantoor of hul reisagentskappe kontak, en voeg by dat die situasie buite hul beheer is. Die lugdiens het weeklikse vlugte na St Helena vanaf Johannesburg en Kaapstad.
# Krieket: Nederland het ‘n maklike oorwinning met sewe paaltjies oor Namibië behaal in hul T20-Wêreldbeker-groep A-wedstryd in Delhi, Indië. Die Nederlanders het Namibië beperk tot 156 vir agt, met Jan Nicol Loftie-Eaton wat die hoogste telling van 42 aangeteken het. Logan van Beek en Bas de Leede het albei twee paaltjies geneem. Nederland het die teiken bereik met net drie paaltjies plat en twee boulbeurte oor, met De Leede se 72 die hoogste telling. Nieu-Seeland speel teen die Verenigde Arabiese Emirate in vandag se tweede wedstryd in Chennai.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-318-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-51-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….