Nuus 13:00
BULLETIN 7 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement reageer op die DA se bewerings van magsmisbruik en wanadministrasie
# Brandbestryders beveg steeds die veldbrand in Du Toitskloofpas
# En krieket: Pakistan troef Nederland net-net in die T20 Wêreldbeker-openingswedstryd
# Die Parlement sê hy is steeds beskikbaar om kommerwekkende sake wat deur enige politieke party geopper word deur die toepaslike parlementêre prosesse aan te spreek. Die Parlement het gereageer op ‘n mediaverklaring deur die DA rakende bewerings van wanadministrasie en magsmisbruik. Die party het ‘n dossier van 393 bladsye ingedien oor ondermeer die buitensporige salarisverhogings van die parlementssekretaris, Xolile George. Woordvoerder Moloto Mothapo sê die DA behoort die kwessies binne die Parlement se gesamentlike staande komitee oor Finansiële Bestuur te opper:
# KwaZulu-Natal se premier, Thamsanqa Ntuli, sê die regering en die Departement van Landbou is daartoe verbind om bek-en-klouseer regoor die land onder beheer te bring. Ntuli het ‘n media-inligtingsessie gehou oor maatreëls van die provinsiale regering om die verspreiding van bek-en-klouseer in die provinsie te bekamp. Die premier sê 700-duisend dosisse entstof word teen die einde van hierdie maand van die Botswana-entstofinstituut verwag:
Die provinsiale Landboudepartement se afdeling Veeartsenykundige Dienste het intussen Agri Wes-Kaap en die Rooivleisprodusente-organisasie in die Wes-Kaap in kennis gestel dat bek-en-klouseergevalle tans in die Khayelitsha- en Mfuleni-gebiede ondersoek word. Agri Wes-Kaap-woordvoerder Rojeanne de Wet sê dit bevestig weereens die kritieke belangrikheid van biosekuriteit. Sy sê bek-en-klouseer bly ‘n staatsbeheerde siekte, en die departement neem verantwoordelikheid vir die inperking en beheer van die siekte, met die ondersteuning van alle relevante belanghebbendes.
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap se Brandweerdiens, is saam met sy vennoot CapeNature, steeds besig om ‘n veldbrand by Du Toitskloofpas te bestry. Die woordvoerder Anesca Roodt sê die brand het gistermiddag aan die Worcester-kant van die pas uitgebreek en oor ‘n uitgebreide gebied in moeilike terrein gewoed. Sy sê teen gisteraand het die brand oorgewaai na die Paarl-kant van die pas:
# Die organiseerders van ‘n hulpvloot na Gaza wat Israel verlede jaar op see in beslag geneem het, sê hulle beplan volgende maand ‘n nuwe, groter sending. Die Global Sumud-vloot het aangekondig dat hulle met meer as 100 bote met tot ‘n duisend aktiviste, insluitend medici en oorlogsmisdaadondersoekers, in Maart na Gaza sal vaar. In ‘n vergadering by die Nelson Mandela-stigting in Johannesburg het een van die veldtogvoerders, Mandla Mandela, kleinseun van wyle Nelson Mandela, die onderneming beskryf as die grootste burgerlik-geleide mobilisering ooit teen Israel se optrede in Gaza.
# En krieket: Pakistan het ‘n noue ontkoming afgeweer om Nederland met drie paaltjies te verslaan in ‘n opwindende T20 Wêreldbeker-openingswedstryd in Colombo. Nadat hulle 148 gejaag het, het Pakistan van 98 vir 2 tot 114 vir 7 ineengestort, en 29 lopies van die laaste 12 balle benodig. Die Speler van die Wedstryd, Faheem Ashraf het 29 van 11 balle aangeteken en die wedstryd met ‘n 19de boulbeurt van 24 lopies omgedraai, insluitend drie sesse. Vroeër het Salman Mirza, met 3 vir 24, gehelp om Nederland vir 147 uit te boul. Skotland en die Wes-Indiese Eilande speel nou, en later vandag is dit Indië teen die VSA
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….