Nuus 08:00
BULLETIN 8 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa gaan die regering se program van optrede in sy staatsrede uiteensit
# COSATU sê die regering moet die hoofstuk van mislukte neoliberale besuinigingsbeleid en begrotings afsluit
# En, die Winter Olimpiese Spele in Italië word ontsier deur straatbetogings
# President Cyril Ramaphosa gaan die regering se program oor die hoë werkloosheidsyfer, misdaad, ekonomiese groei en werkskepping in Donderdag se Staatsrede uiteensit. Die minister in die Presidensie vir Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, sê die president se toespraak wil miljoene Suid-Afrikaners tuis bereik, wat dit as een van die belangrikste oomblikke op die nasionale politieke kalender bevestig. Sy het bygevoeg die staatsrede bied die President die geleentheid om op politieke, ekonomiese en sosiale fronte oor die stand van die nasie te besin.
Terwyl die president vir sy toespraak voorberei, doen COSATU ‘n beroep op die regering om die hoofstuk van mislukte neo-liberale besparingsbeleid en begrotings af te sluit. COSATU se woordvoerder Matthew Parks sê die regering moet voorste linie openbare dienste voorsien van die fondse, personeel en infrastruktuur wat hulle benodig om hul grondwetlike verpligtinge en ontwikkelingsmandaat na te kom:
# Rand Water het ‘n beroep op inwoners en alle grootmaatwaterverbruikers gedoen om water spaarsamig te gebruik terwyl die nutsmaatskappy volgehoue hoë waterverbruik in Gauteng, veral die Stad Johannesburg en Tshwane, moet hanteer. Woordvoerder Makenosi Maroo sê hoër as normale verbruik het die toegekende volumes oorskry en plaas steeds aansienlike druk op die algehele watervoorsieningsnetwerk:
# Eskom sê die voortdurende verbetering in die energiebeskikbaarheidsfaktor het Eskom se afhanklikheid van duur dieselopwekking aansienlik verminder, wat ‘n sterker fokus op meer koste-effektiewe primêre energiebronne moontlik maak. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê geen diesel is die afgelope week gebruik nie, wat tot ‘n nul-uitgawe gelei het. Sy sê die totale dieseluitgawe is nou 4,81-miljard-rand laer as dieselfde tyd verlede jaar:
# Rugby: Die openingsronde van die 2026 Sesnasiestoernooi is gister twee beslissende uitslae afgesluit. Engeland het op Twickenham ‘n bonuspunt-oorwinning van 48–7 oor Wallis behaal, op die rug van ‘n driekuns deur Henry Arundell. Italië het vroeër in Rome ‘n historiese oorwinning van 18–15 oor Skotland behaal. Frankryk het Donderdag met 36–14 teen Ierland gewen, met Engeland wat tans bo-aan die punteleer is. Frankryk is tweede met Italië derde na hul naelskraapse tuisoorwinning. Skotland, Ierland en Wallis is sonder punte en word slegs geskei deur die verskil in hul onderskeie puntetellings.
# En om mee af te sluit, ‘n groep van nagenoeg 100 betogers het gister vuurwerke, rookbomme en bottels na die polisie gegooi nadat hulle van ‘n groter groep in die Olimpiese gasheerstad Milaan weggebreek het. Polisie in onlustoerusting en met skilde het met waterkanonne gereageer om die groep uiteen te jaag en binne ‘n paar minute orde herstel. Ongeveer tienduisend mense het die strate van Milaan ingevaar om te protesteer oor behuisingskoste en omgewingskwessies op die eerste volle dag van die Winter Olimpiese Spele in Milaan Cortina.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….