Nuus 13:00
BULLETIN 23 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema se voorvonnisverhoor word tydelik uitgestel weens beperkte ruimte
# Die dodetal in die Oos-Kaapse skoolskietery styg tot drie
# En rugby: Baltimore is die gasheer vir die Springbokke en die All Blacks se laaste toets
# Die EFF-leier, Julius Malema, se voorvonnisverhoor in die Landdroshof in Oos-Londen in die Oos-Kaap is tydelik uitgestel weens beperkte ruimte, en sal in ‘n vertrek in die Hooggeregshof voortgaan. Ondersteuners het in groot getalle voor die hof saamgedrom en die polisie moes die ingange versper. Malema se regspan, gelei deur advokaat Tembeka Ngcukaitobi, is gereed om te appelleer teen sy skuldigbevinding op verskeie vuurwapenverwante aanklagte wat verband hou met ‘n voorval op die Sisa Dukashe-stadion in 2018.
Steeds in die Oos-Kaap:
# Die provinsiale Onderwysdepartement het bevestig nog ‘n onderwyseres is dood ná ‘n skietery by Ntabankulu Junior Secondary School, wat die dodetal op drie te staan bring, insluitend die vermeende aanvaller. Polisiewoordvoerder Nobuntu Gantana sê die voormalige onderwyser, wat uit was op borgtog vir seksuele aanranding, het toegang tot die skoolterrein verkry en drie onderwyseresse geskiet voordat hy sy eie lewe geneem het. Een onderwyseres is op die toneel dood en een in die hospitaal, en die derde is ernstig beseer. Die departement bevestig klasse hervat Maandag.
# Die Tshwane-metropolisiedepartement se afdeling vir openbare vervoer het 20 minibusse geskut omdat hulle onpadwaardig was en bestuurders nie die nodige rybewyse gehad het nie. Die leerdervervoer-operasies is in Olievenhoutbosch en Montana uitgevoer. Die metro se woordvoerder, Puleng Motholo, sê die hoofdoel is om voertuie en bestuurders te identifiseer en van die pad te verwyder as hulle leerders sonder die vereiste permitte vervoer, en onpadwaardige voertuie gebruik:
# Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het inwoners gemaan om waaksaam te bly terwyl die provinsie met ernstige veldbrande en voortdurende watertekorte worstel. Volgens Winde is die 2025/26-brandseisoen die ergste in ‘n dekade, met 132-duisend hektaar wat afgebrand en verskeie strukture wat vernietig is, maar sonder enige lewensverlies. Hy sê meer as 19-miljoen rand is aan brandbestrydingsoperasies bestee, tewyl meer as tweeduisend-600 personeellede wat ontplooi is:
# Rugby: Suid-Afrika en Nieu-Seeland sal die laaste toets van hul reeks in September op die M&T Bank-stadion in Baltimore, Amerika, speel. Twee van die eerste drie toetse sal in Johannesburg plaasvind, en die ander een in Kaapstad. Die Springbokke het in 2018 laas in Amerika gespeel, in Washington teen Wallis, terwyl die All Blacks verlede jaar in Chicago teen Ierland gespeel het. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, sê een van hulle hoof-doelwitte is om die Bokke na nuwe gehore en gebiede te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-972-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-912-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….