Nuus 13:00
BULLETIN 5 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Venezuela se waarnemende president stem in om met Amerika saam te werk
# ‘n Sesjarige meisie sterf in Limpopo nadat sy in ‘n puttoilet val
# En sokker: Bafana Bafana se kaptein is teleurgesteld oor hulle vroeë vertrek uit AFCON
# Venezuela se waarnemende president, Delcy Rodriguez, het ingestem om met Amerika saam te werk aan ‘n sakelys wat gefokus is op gedeelde ontwikkeling. Sy het die eerste keer ‘n versoenende toon aangeneem sedert Amerikaanse magte die olieryke land se president, Nicolas Maduro, gevange geneem het. Rodriguez het in ‘n verklaring op sosialemedia gesê haar regering gee voorrang aan ‘n stap na respekvolle betrekkinge met Amerika. Sy het vroeër Saterdag se klopjag gekritiseer as ‘n onwettige poging om beslag te lê op die land se nasionale hulpbronne.
Intussen kan internasionale oliemarkte onlangse wêreldwye geopolitieke onrus absorbeer ná Maduro se gevangeneming, met ru-oliepryse wat ondanks die krisis redelik bestendig bly. Ontleders sê Venezuela se huidige produksie vorm slegs ‘n klein gedeelte van die wêreldwye aanbod en voldoende voorraad hou die pryse in toom. Voorspellings dui op ‘n voortgesette oor-aanbod, met maatstawwe teen bykans 989-rand per vat, wat skerp prysstygings in die politieke omwenteling beperk. Markte bly egter waaksaam namate langtermyn-uitwerkings ontvou.
Terug by die huis:
# Die polisie in Limpopo het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat ‘n sesjarige meisie in ‘n puttoilet in Wisani in die Nkuzana-nedersetting gevind is. Die kind het vermis geraak terwyl sy gespeel het. Inwoners het haar later in die nabygeleë puttoilet gevind. Die polisie sê sy is na ‘n plaaslike kliniek gehaas, maar is met haar aankoms dood verklaar. Owerhede bepleit die voortdurende toesig oor kinders te midde van kommer oor sanitasieveiligheid wat voortduur. Ondersoeke is aan die gang om die omstandighede rondom die voorval te bepaal.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê privaat skole se stygende skoolfondse bedreig toegang tot gehalte-onderwys. Hy sê sommige skole kos nou meer as 400-duisend-rand per leerder per jaar. Makaneta sê die styging is hoër as inflasie en plaas druk op huishoudings, sluit ouers uit en vererger ongelykheid. Hy vra deursigtigheid en beraadslaging oor die manier waarop skole en onderwysowerhede pryse bepaal:
# Sokker: Bafana Bafana se kaptein, Ronwen Williams, sê hy is teleurgesteld omdat hulle nie hul doelwit bereik het in die Afrikabekertoernooi nie. Suid-Afrika het gister in Marokko 2-1 teen die vyfmalige kampioen, Kameroen, verloor in die ronde van 16. Williams sê hulle het nie hul bes gedoen nie, en hulle moet dit regstel met die Wêreldbekertoernooi wat voorlê:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-492-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-431-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….