Nuus 13:00
BULLETIN 4 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die VSA se militêre inval in Venezuela is imperiale aggressie
# Motoriste word gewaarsku oor dadelike boetebetalings by padblokkades
# En, China belas kondome en voorbehoedmiddels in ‘n poging om sy geboortesyfer te bevorder
# Die EFF het die VSA se militêre optrede in Venezuela veroordeel en president Donald Trump se retoriek as roekeloos en arrogant beskryf. Die party sê die gevangeneming van president Nicolás Maduro en sy vrou weerspieël Washington se minagting vir internasionale reg. Trump het Maduro daarvan beskuldig dat hy ‘n dwelm-terroriste-organisasie bestuur, en die twee is nou in New York aangekla. Die EFF voer aan die stap word deur oliebelange gedryf, dit skend Venezuela se soewereiniteit, en skep ‘n gevaarlike wêreldwye presedent wat neerkom op imperiale aggressie teen die Globale Suide.
# Die Britse eerste minister Keir Starmer het bevestig die Verenigde Koninkryk was nie betrokke by die Amerikaanse militêre operasie in Venezuela nie. President Nicolas Maduro en sy vrou, Cilia Adela Flores de Maduro, is in New York aangekla op aanklagte van terrorisme en dwelmhandel. Trump het sedertdien die beëdiging van visepresident Delcy Rodriguez aangekondig. Starmer het ook bevestig dat die ambassade in Venezuela Britse burgers in die land beskerm:
# Die Nasionale Motoristevereniging van Suid-Afrika het motoriste gewaarsku dat hulle nie wetlik verplig is om verkeersboetes by padversperrings te betaal nie. Die waarskuwing volg terwyl baie reisigers na die feestyd huis toe keer. Die vereniging sê hulle het talle klagtes ontvang, met nege uit tien motoriste wat geïntimideer of met arrestasie gedreig word as hulle nie boetes onmiddellik betaal nie. Die uitvoerende hoof Bobby Gage sê dadelike betalings is nie ‘n wetlike vereiste nie:
# Twee mense is dood ná weerlig hulle gistermiddag tydens die jaarlikse Mphebatho-troepefees in Dertig, Noordwes, getref het. Die slagoffers se identiteite is nog nie vrygestel nie, want hulle naasbestaandes moet nog in kennis gestel word. Meer as 50 mense ontvang mediese behandeling by die Mathibestad-kliniek en Jubilee-hospitaal in Hammanskraal. Die Moretele-munisipaliteit se woordvoerder, Mothupi Malebye, sê die weerlig het die mense tydens ‘n buiteluggeleentheid getref. Owerhede het die publiek versoek om voorsorgmaatreëls te tref tydens erge weersomstandighede.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê geen genade sal betoon word nie, wanneer Suid-Afrika vanaand om negeuur teen Kameroen in die laaste ronde van 16 wedstryde om die Afrikabeker in Rabat, Marokko te staan kom. Broos, wat die vyfmalige kampioene in 2017 na AFCON-glorie gelei het, sê hy mik op ‘n oorwinning vir Suid-Afrika. Bafana Bafana moet wen om die kwarteindronde te haal. Broos het sy frustrasie oor lang reistye na oefeninge uitgespreek:
# China het ‘n drie dekade oue belastingvrystelling op voorbehoedmiddels en -toestelle vanaf 1 Januarie afgeskaf om ‘n dalende geboortesyfer te verhoed. China het kinderversorgingsubsidies van persoonlike inkomstebelasting vrygestel en verlede jaar ‘n jaarlikse kinderversorgingsubsidie ingestel. Dit het gevolg op ‘n reeks “vrugbaarheidsvriendelike” maatreëls in 2024, soos om kolleges en universiteite aan te spoor om “liefdesopvoeding” te bied om huwelik, liefde, vrugbaarheid en gesin in ‘n positiewe lig uit te beeld. China se geboortesyfer daal reeds dekades lank as gevolg van ‘n eenkindbeleid tussen 1980 tot 2015, en vinnige verstedeliking.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….