Nuus 11:00
BULLETIN 4 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die VSA se optrede teen Maduro skend internasional reg
# Eskom teiken die verhaling van R105-miljard se munisipale skuld
# En, die Cape Minstrel Carnival Association soek befondsing te midde van ‘n hofstryd met Kaapstad
# Die politieke ontleder, Oscar van Heerden, sê die VSA se optrede om die Venezolaanse president Nicolas Maduro en sy vrou, Cilia Adela Flores de Maduro, gevange te neem is buite die internasionale reg. Hy het in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika beklemtoon daar is geen bewyse wat Maduro met bedreigings teen die VSA, insluitend dwelmhandel verbind nie, en voer aan die operasie is gemotiveer deur oliebelange. Hy het die internasionale gemeenskap versoek om regsbeginsels te handhaaf en kalmte in Venezuela aangemoedig:
Die leier van RISE Mzansi, Songezo Zibi, het intussen die Amerikaanse president Donald Trump van wetteloosheid en seerowery beskuldig na aanvalle in Venezuela en die ontvoering van president Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Adela Flores de Maduro. Zibi beweer die Amerikaanse magte het Venezolaanse olietenkskepe en vissers geteiken en waarsku sulke optrede skend internasionale reg. Hy het wêreldwye verdedigers van demokrasie aangespoor om te verenig en die VN-Veiligheidsraad versoek om op te tree teen wat hy as gevaarlike destabilisering beskryf:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Eskom gebruik verskeie strategieë om meer as 100-miljard-rand te verhaal wat deur munisipaliteite verskuldig is. Die minister het aan die parlement gesê munisipale skuld het teen September 2025, 105-miljard rand beloop. Ramokgopa sê Eskom werk saam met wanbetalende rade deur middel van verspreidingsagentskapooreenkomste om fakturering en inkomste-invordering te verbeter. Slegs tien uit 71 munisipaliteite voldoen ten volle aan die Tesourie se skuldverligtingsprogram.
# Die Cape Minstrel Carnival Association vra vir finansiële steun om hul regstryd teen die Stad Kaapstad voort te sit. Dit volg nadat die stad appèl aangeteken het om die uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof ter syde te stel, wat vereis dat hulle ‘n alternatiewe plek vir die jaarlikse parade moet verskaf. Terwyl die stad nuwe datums voorgestel het, hou die vereniging vol dat dit bots met hul voorkeurskedule. Die vereniging sê dit verleng ‘n regstryd oor die tydsberekening en ligging van die ikoniese kulturele feestelikhede.
# En krieket: Aanhoudende reën deur die dag en tydens die aandsessie het daartoe gelei dat die SA20-wedstryd tussen die Pretoria Capitals en Durban’s Super Giants in Centurion gisteraand uitgereën het. Die reën het vir ‘n kort rukkie opgehou, waarna die loot getrek is. Die Capitals het die loot gewen en besluit om te boul, maar net toe spel sou begin, het dit begin reën. Die wedstryd is afgelas sonder dat ‘n bal geboul is. Die middag se SA20-botsing tussen die Joburg Super Kings en Sunrisers Eastern Cape by die Wanderers is ook weens reën en weerlig afgelas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….