Nuus 13:00
BULLETIN 22 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Veertien getuies het reeds by ondersoek na Polisiekorrupsie getuig met meer wat volgende jaar verwag word
# Die Forum for South Africa bevraagteken meer as nege-duisend polisiebeamptes se bevordering na hoër range
# En sokker, ‘n taai AFCON-tweestryd word vandag tussen Suid-Afrika en Angola verwag
# Die Forum for South Africa sê nege-duisend-548 polisiebeamptes se bevordering na hoër range herstel nie die gebroke polisiëringstelsel wat geteister word deur korrupsie, politieke inmengery en swak leierskap nie. Die bevordering is gemik op beamptes wat langer as tien jaar hul huidige rang beklee. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê daar is geen openbare sekerheid dat die betrokke beamptes behoorlik nagegaan is nie:
# Die Parlement se ad hoc-komitee wat polisiekorrupsie ondersoek, het baie van sy werk afgehandel, maar sal verhore tot in 2026 voortsit. Veertien getuies het tot dusver getuig, insluitend die KwaZulu-Natalse provinsiale kommissaris Nhlanhla Mkhwanazi en die sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala. Nog getuienis word verwag deur die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-polisie, Julius Mkhwanazi, die voormalige hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Robert McBride, en ‘n skriftelike voorlegging deur president Cyril Ramaphosa.
# Vyf mense is dood toe twee ligte motorvoertuie in die vroeë oggendure op die R60 tussen Stockwell en Zolani in die Wes-Kaap gebots het. Die slagoffers was almal in dieselfde voertuig. Woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Mobiliteit, Muneera Allie, sê owerhede ondersoek die omstandighede rondom die botsing:
# Die ondersoekbeamptes wat die dodelike Bondi Beach-aanval ondersoek, meen drie pypbomme en ‘n tennisbalbom is na die skare gegooi voordat die twee aanvallers begin skiet het. Die 24-jarige Naveed Akram staan tereg op 15 moordaanklagte en die besering van tientalle meer in die skietery tydens ‘n Hanukkah-viering op 14 Desember. Sy 50-jarige pa, Sajid Akram, is op die toneel doodgeskiet. Die polisie beweer in die hofdokument dat die twee ook video’s opgeneem het wat daarop dui dat hulle aanhangers is van ‘n godsdienstig gemotiveerde, gewelddadige ekstremisme-ideologie.
# Sokker: Suid-Afrika en Angola ontmoet mekaar in ‘n Suider-Afrikaanse derby in hulle eerste Groep B-wedstryd van die 2025 Afrika-Nasiebeker vanmiddag om 17:00 in Marokko. Dit is hul vyfde AFCON-ontmoeting in die groepfase. Bafana Bafana het twee keer gewen en twee keer gelykop gespeel, maar Angola is onoorwonne in die laaste ses ontmoetings. Bafana Bafana se kaptein, Rowen Williams, sê hy het steeds groot vertroue in sy span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-60-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-411-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….