Nuus 10:00
BULLETIN 22 Desember 10 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Tesourie sê die kortlys vir die nuwe Inkomstediens-kommissaris is nog nie afgehandel nie
# Die GOOD-party veroordeel die massaskietery by die Bekkersdal-taverne
# En, die MK-party sê die Gautengse polisiekommissaris Tommy Mthombeni moet verwyder word
# Die Nasionale Tesourie sê ‘n kortlys kandidate om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se kommissaris, Edward Kieswetter, op te volg, is nog nie aan die minister van Finansies, Enoch Godongwana, oorhandig nie. Kieswetter se sewejaartermyn verstryk volgende jaar in April. Die Tesourie het aan News24 gesê die proses om Kieswetter se opvolger te kies, sluit tegniese assesserings in om kandidate se toepaslike vermoëns te bepaal, omvattende toetse vir personeelgeskiktheid, en sekerheidsklarings. Hy sê die onderhoude sal nie in die openbaar geskied nie.
# Die GOOD-party het die dodelike skietvoorval by ‘n taverne in Bekkersdal, Gauteng veroordeel. Nege mense is dood en tien ander is gewond toe gewapende mans Sondag op die taverne in die verarmde township losgebrand het. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê daar is geen samehangende voorkomingstrategie om massaskietvoorvalle in die land en die onbeheerde vloei van onwettige vuurwapens te bekamp nie:
# Die MK-party in Gauteng doen ʼn beroep dat die polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, vervang word omdat hy volgens die party nie massaskietvoorvalle in die provinsie doeltreffend hanteer nie. Dit volg na die skietery gister by ʼn taverne in Bekkersdal aan die Wes-Rand waarin nege mense dood is. MK-woordvoerder, Abel Tau, sê die voorval toon ʼn polisiëringskrisis in Gauteng wat nie langer geïgnoreer kan word nie:
# Krieket: Daar is ernstige twyfel oor die Australiese draaibouler Nathan Lyon se deelname aan die laaste twee toetse om die As teen Engeland. Die 38-jarige het sy regterdyspier Saterdag beseer op die laaste dag van die derde toets en het die Adelaide Oval op krukke verlaat. Die Australiërs het met 82 lopies gewen en loop nou 3-0 voor in die reeks. Indien Lyon nie betyds herstel vir die Melbourne-toets wat op Tweede Kersdag begin nie, is Todd Murphy, Corey Rocchiccioli en Matthew Kuhnemann moontlikhede om hom te vervang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 22-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-813-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-400-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte, Avatar: Fire and Ash, James Cameron se derde uitgawe in die Avatar-reeks het die naweek geskitter by kaartjiekantore. Die fliek spog met sterre soos Zoe Saldaña, Sam Worthington en Sigourney Weaver in die hoofrolle. Angel Studios se geanimeerde Bybelse musiekblyspel, David, ʼn kindervriendelike weergawe van Dawid en Goliat se verhaal, was tweede, gevolg deur Lionsgate se sielkundige riller, The Housemaid. Die SpongeBob Movie: Search for SquarePants en Disney se Zootopia 2 voltooi die topvyf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….