Nuus 13:00
BULLETIN 30 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke arresteer ‘n vyfde verdagte vir vermeende werwing van Suid-Afrikaners vir oorlog tussen Rusland en Oekraïne
# Patricia de Lille vra vir eenheid om Suid-Afrika se toekoms te bepaal
# En, slakke ter waarde van meer as 1,7-miljoen-rand gesteel van ‘n Franse slakboer met Michelin-kliënte
# Die Valke het ‘n vyfde verdagte in hegtenis geneem in verband met die beweerde werwing van Suid-Afrikaners om by die Rusland-Oekraïne-oorlog aan te sluit. Dit volg na die vroeëre inhegtenisneming van drie mans en ‘n vrou by OR Tambo Internasionale Lughawe voor hulle na Rusland sou vertrek. Die 17 mans is na bewering mislei om te glo dat hulle as lyfwagte opgelei sou word, maar is eerder ontplooi om in die buiteland te veg. Al die verdagtes sal môre in die landdroshof in Kemptonpark verskyn.
# Die leier van die GOOD-party, Patricia de Lille sê die Unite for Change-beweging is ‘n kans om Suid-Afrika se toekoms te bepaal. De Lille het in Soweto, tydens die Unite for Change-veldtog wat bestaan uit BOSA, die GOOD Party en RISE Mzansi, die huidige leiers gekritiseer vir die uitbuiting van mag, diefstal en hul ignorering van die beginsel dat die mense moet regeer. Sy sê Build One South Africa, RISE Mzansi en die GOOD Party het verenig om verantwoordbare leierskap te herstel:
# Eskom het bevestig dat sy kragprestasie verbeter het as gevolg van langtermyn strukturele verbeterings en sy Opwekkingsherstelplan. Die Energiebeskikbaarheidsfaktor het gestyg tot 68,48-persent vir die maand tot dusver, teenoor 62,24-persent verlede jaar. Onbeplande onderbrekings het ook afgeneem. Suid-Afrika het 196 dae sonder onderbreking in toevoer gehad. Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena sê die kragverskaffer sal drieduisend-875-megawatt byvoeg voor die aandspitstyd môre, namate instandhouding en die betroubaarheid van die aanlegte aanhou verbeter:
# Motorsport: Oscar Piastri het sy aanslag op die wêreldkampioenskaptitel versterk met ‘n dramatiese laat kwalifiserende rondte Saterdag om die voorste wegspringplek vir die Katar Grand Prix te verower, nadat hy sy McLaren-spanmaat en kampioenskapsvoorloper Lando Norris met ‘n tiende van ‘n sekonde geklop het. Die viermalige kampioen Max Verstappen van Red Bull het derde gekwalifiseer. Vir Piastri is hierdie wedren deurslaggewend. As Norris voor sy spanmaat en Verstappen eindig, sal die Brit sy eerste titel beklink op die vooraand van die seisoen se laaste Grand Prix in Abu Dhabi. Norris lei die kampioenskap met 396 punte, gevolg deur Piastri op 374 en Verstappen met 371.
# En om mee af te sluit, meer as 1,7-miljoen-rand se slakke is by ‘n Franse slakboer gesteel. Die Franse media sê die verskaffer sukkel nou om sy voorraad betyds vir die vakansieseisoen aan te vul. Die familie-onderneming naby Bouzy teel jaarliks sowat 350-duisend slakke en verskaf aan ‘n lang lys restaurante, insluitend sommige Michelin-kliënte. Volgens die maatskappy se Facebook-blad het diewe by die gebou wat die slakke huisves, ingebreek nadat hulle die heining om die eiendom gesny het, en met vars, ingelegde en bevrore slakke weggekom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….