Nuus 13:00
BULLETIN 26 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Tesourie reik ‘n konsepdokument uit vir voorgestelde belasting op aanlyn dobbel
# COPE veroordeel Trump se volksmoord-bewerings
# En krieket: Geskiedenis word herskryf met die toetsreeks tussen die Proteas en Indië
# Die Nasionale Tesourie het ‘n konsep-besprekingsdokument gepubliseer vir openbare kommentaar op belasting op aanlyn dobbel. Die Tesourie sê die spoed waarmee aanlyn dobbelary groei veroorsaak groot maatskaplike uitdagings wat voortgesette monitering en ontvanklike regulering vereis. Die Tesourie glo probleemdobbelary plaas ‘n koste op die samelewing en dit is in openbare belang dat sulke gedrag gereguleer of verminder word. ‘n Nuwe nasionale aanlyn dobbelbelasting vir Suid-Afrika word dus voorgestel. Die besprekingsdokument is beskikbaar op die Tesourie se webwerf en die sluitingsdatum vir openbare kommentaar is 30 Januarie.
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap sê die aanlyn veiling van die terrein van die gebou-instorting in George waarin 34 werkers in Mei verlede jaar dood en 28 beseer is, is heeltemal onaanvaarbaar. Die veiling volg nadat die George-munisipaliteit vroeër die maand sy eis van tien-miljoen-rand vir herstelkoste teruggetrek het as gevolg van die eienaars, Neo Victoria Development, se likwidasie. Chantelle Kyd van GOOD sê ‘n permanente gedenkteken vir die slagoffers en hul bedroefde gesinne moet op die terrein opgerig word:
# SANParke sê die Tafelberg Nasionale Park in die Wes-Kaap is gereed vir die feestyd. Veiligheid, brandbestryding en patrollies is versterk met veldwagters, hommeltuie en honde-eenhede, en word ondersteun deur vrywilligers en nooddienste. Toeriste kan veilig stap en strande, die natuurlewe en die pragtige uitsig geniet. SANParke se woordvoerder, JP Louw, het besoekers aangespoor om vooruit te beplan, in groepe te stap, water saam te dra en seker te maak hulle selfone is gelaai:
# COPE sê die onlangse bewerings van die Amerikaanse president, Donald Trump, oor volksmoord in Suid-Afrika word nie gestaaf nie en verskil radikaal van die werklikheid. Die party sê Suid-Afrika het pas ‘n baie suksesvolle G20-leiersberaad aangebied, wat wyd geprys is vir die bevordering van samewerking, demokrasie en globale vennootskappe. COPE sê die Suid-Afrikaanse regering het gefokus gebly en die beraad met krag en professionaliteit hanteer, ondanks druk van buite.
# Krieket: Die reeks tussen Suid-Afrika wat vandag met die tweede toets in Guwahati afgesluit is, het verskeie geskiedkundige statistieke opgelewer. Die veelsydige Aiden Markram het die eerste speler ooit geword om nege vangkanse in ‘n wedstryd te benut, terwyl die Proteas hul eerste reeks in Indië gewen het sedert Hansie Cronjé se span in 2000. Vandag was ook Indië se grootste toetsnederlaag toe Suid-Afrika met 408 lopies geseëvier het. Die 36-jarige speler van die reeks, Simon Harmer, is die bouler met die beste gemiddeld in ‘n reeks in Indië met 17 paaltjies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-266-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-159-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….