Nuus 13:00
BULLETIN 18 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# McKenzie waarsku die ANC Ramaphosa se verwydering sal ‘n ernstige fout wees
# Suid-Afrika stel ‘n digitale toerismekern bekend vir internasionale gaste voor die G20-beraad
# En rugby: RG Snyman kan Saterdag sy 50ste toets vir Suid-Afrika speel
# Die leier van die Patriotic Alliance en minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê dit sou ‘n groot fout wees van die ANC om president Cyril Ramaphosa te verwyder. Dit volg op toenemende gerugte rondom sy moontlike bedanking ná hierdie naweek se G20-leiersberaad. McKenzie het op Facebook Live gesê inflasie wat op die laagste in jare is en verbeterde werkskepping in die derde kwartaal toon die regering van nasionale eenheid stuur die land in die regte rigting:
Die Departement van Toerisme, in samewerking met die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, SA Toerisme, die Gautengse Toerisme-owerheid en die Toerisme-Sakeraad van Suid-Afrika, gaan intussen môre ‘n slim toerisme-besoekersinligtingsentrum bekend stel op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng. Die interaktiewe, papierlose sentrum sal onmiddellike inligting oor toerisme, kultuur en erfenis in al nege provinsies verskaf en G20-afgevaardigdes en internasionale besoekers verwelkom.
# Ekurhuleni se burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, het ‘n omvattende interne ondersoek gelas na ernstige bewerings teen senior amptenare van die metropolisie, insluitend die geskorste adjunkhoof, Julius Mkhwanazi. Die Madlanga-kommissie het verlede week getuienis vanaf verskeie amptenare aangehoor wat beweer die EMPD is deur misdadige groepe geïnfiltreer. Xhakaza sê hy het ook die stadsbestuurder opdrag gegee om binne 30 dae ‘n voorlopige verslag oor die ondersoek in te handig:
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê hy sal die Arbeidersparty lei in die volgende algemene verkiesing. ‘n Onlangse YouGov-peiling vir The Times het aangedui slegs ‘n derde van die mense wat die party verlede jaar gesteun het, wil hê hy moet die Tories lei na die volgende nasionale verkiesing wat nie later nie as 2029 moet plaasvind. Sowat 23-persent van die kiesers dink Starmer moet nou bedank. Hy het aan Daily Mirror gesê sy fokus is op die hantering van lewenskoste.
# Rugby: Die slot RG Snyman kan Saterdag sy 50ste toets vir Suid-Afrika speel wanneer hulle in Dublin teen Ierland te staan kom. Hy verwag ‘n spesiale geleentheid in die land waar hy die afgelope ses jaar die meeste van sy klubrugby gespeel het. Snyman speel tans vir Leinster na vyf seisoene by Munster, en kan teen verskeie huidige en gewese spanmaats te staan kom, met 21 spelers van Leinster in die nasionale groep. Bok-afrigter Rassie Erasmus gaan na verwagting Donderdagmiddag sy span aankondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-96-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-842-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-33-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….