Nuus 13:00
BULLETIN 7 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die geskorste minister van Polisie moet nog sy verskyningsdatum vir die Madlanga-kommissie ontvang
# Nersa registreer 181 nuwe opwekkingsaanlegte wat 30-miljard-rand se belegging kan lok
# En Standard Bank gaan Binnelandse Sake se dienste volgende jaar na nog 20 takke uitbrei
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, weet nog nie wanneer hy voor die Madlanga-kommissie moet verskyn nie. Sy woordvoerder, Sthembiso Mshengu, het aan Newzroom Afrika gesê Mchunu, wat reeds voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig het, sal steeds voorberei vir sy getuienis al is sy elektroniese toestelle gisteraand in beslag geneem toe die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde toegeslaan het op sy huis in Pretoria. Hy sê die beslaglegging sal Mchunu se voorbereiding beïnvloed:
Die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, het homself intussen aan die Pretoriase polisie oorgegee in verband met voortgesette ondersoeke na korrupsie by Transnet. Gigaba was tussen 2010 en 2014 minister van Openbare Ondernemings. Dit was ‘n tydperk waartydens die berugte Gupta-familie en hul medewerkers na bewering beduidende invloed uitgeoefen het op groot Transnet-kontrakte, insluitend ‘n lokomotief-transaksie van 54-miljard-rand. Gigaba sê hy het volle vertroue in die howe, want hulle is die forum waar feite seëvier en nie fiksie nie.
# Die energiereguleerder Nersa het tussen Julie en September 181 nuwe opwekkingsaanlegte geregistreer. Dit voeg meer as een-duisend-megawatt vermoë by en lok na raming 31-miljard-rand se belegging. Sonkrag oorheers die nuwe projekte, met Gauteng, die Wes-Kaap en Limpopo waar die meeste aanlegte is. Charles Hlebela van Nersa sê die grootste gedeelte van die vermoë sal in Eskom se netwerk ingevoer word, terwyl sommige aan munisipale netwerke gekoppel sal word:
# Tennis: Die Italianer Lorenzo Musetti kan steeds sy plek verseker in die ATP-jaareindtoernooi wat Sondag in Turyn in sy geboorteland begin. Hy het die Fransman Alexandre Muller in die kwarteindronde van die Hellenic-toernooi in Athene, Griekeland, geklop en kom nou teen die Amerikaner Sebastian Korda te staan. Musetti moet die toernooi wen om vir die jaareindtoernooi te kwalifiseer en te keer dat die Kanadees Felix Augur-Aliassime die laaste plek kry. Die top-gekeurde Novak Djokovic van Serwië en die Duitse kwalifiseerder Yannick Hanfmann pak mekaar in die ander halfeindstryd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 22-rand teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 100-duisend-880-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-5-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Standard Bank gaan sy samewerking met die Departement van Binnelandse Sake uitbrei deur dienste vroeg volgende jaar by 20 bykomende takke bekend te stel. Die bank het reeds die nodige infrastruktuur gereed, met twee takke wat reeds getoets word. Marius le Roux van Standard Bank sê die ontwikkeling is daarop gemik om toegang, gerief en insluiting te verbeter, veral in gebiede met beperkte toegang tot die departement se kantore:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….