Nuus 13:00
BULLETIN 6 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie finaliseer die reëlings vir die uitlewering van AKA se vermeende moordenaars
# Rugby: Die Blitsbokke is slaggereed vir die nuwe seisoen
# En die Mexikaanse president doen regstappe teen die man wat haar na bewering betas het
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het bevestig hy het ‘n oorgawebevel van die Eswatini-regering ontvang vir Siyabonga Gezani en Malusi Dave Ndimande. Dit volg nadat hulle Maandag hul uitleweringsappèl laat vaar het. Die broers word vir ʼn reeks misdade in Suid-Afrika gesoek, onder meer die moord op die musikant, Kiernan “AKA” Forbes, en sy vriend Tebello “Tibz” Motsoane. Die nasionale polisiewoordvoerer, Athlenda Mathe, sê hulle finaliseer logistieke reëlings sodat die uitlewering komende Dinsdag kan plaasvind:
# Die Madlanga-kommissie wat polisie-korrupsie ondersoek, wil voor die einde van vanjaar ‘n tussentydse verslag aan president Cyril Ramaphosa lewer, hoewel die datums onseker is weens nuwe bewyse wat daagliks na vore kom. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, het in ‘n onderhoud met die SABC gesê ondersoekbeamptes en regspanne werk onverpoosd om nuwe inligting en bewerings te verwerk. Hy het bevestig voorbereidings vir fase twee van die verhore is aan die gang en dit behoort binnekort te begin:
# Die direkteur van die Wêreldhandelsorganisasie, Ngozi Okonjo-Iweala, het Suid-Afrika, Indië en Turkye gekritiseer vir die versperring van die Beleggingsontwikkelings-ooreenkoms. Dit is ‘n raamwerk wat wêreldmaatstawwe bied om die beleggings- en sakeklimaat te verbeter. Suid-Afrika se teenkanting spruit uit ‘n gesamentlike beleidsdokument met Indië in 2019, wat gevra het dat geen nuwe items op die WHO se agenda gevoeg word voordat die organisasie hom daartoe verbind om terug te keer na die Doha-ronde van handelsonderhandelinge nie. Okonjo-Iweala sê die ooreenkoms sal goed wees vir arm lande.
# Rugby: Die afrigter van die sewes-Springbokke, Philip Snyman, sê hy is tevrede met die span se voorbereidings vir die nuwe Wêreldsewes-seisoen. Dit skop af met die Dubaise sewes op 29 en 30 November, waarna die Blitsbokke en die ander spanne na Suid-Afrika terugkeer om volgende maand hul titel in Kaapstad te verdedig. Snyman sê een van hul hoofdoelwitte dié seisoen is om die basis vir sy spankeuse uit brei met die oog op die Olimpiese Spele in 2028:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-36 sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-71 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-995 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-13 dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-11-sent per-vat.
# En ten slotte: Mexiko se president, Claudi Sheinbaum, het ‘n man verkla nadat hy haar na bewering geteister en betas het tydens ‘n openbare optrede. Die man het Dinsdag deur ‘n skare gebars wat haar in Mexikostad ingewag het, en haar vermoedelik betas en probeer om haar te soen. Die polisie sê ‘n voorlopige ondersoek verbind die man met die beweerde teistering van twee ander vroue dieselfde dag. Sheinbaum, die land se eerste vroue-president, sê sy moes regstappe doen omdat geen man die reg het om ‘n vrou so te behandel nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….