Nuus 13:00
BULLETIN 29 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie hoor van die Valke se aggressiewe inmenging tydens Katiso “KT’ Molefe se inhegtenisneming
# Sewe mense sterf in ‘n botsing in die suide van Johannesburg
# En rugby: Erasmus het vertroue in die nuweling Bok-stut
# ‘n Voormalige lid van die politieke moorde-taakspan, kaptein Maxwell Wanda, het aan die Madlanga-kommissie gesê lede van die Valke het ingemeng en aggressief opgetree tydens die inhegtenisneming van die sakeman Katiso “KT” Molefe in Desember verlede jaar. Molefe word daarvan beskuldig dat hy opdrag gegee het vir die moord op die ingenieur Armand Swart. Wanda sê die Valke het onverwags in groot getalle by Molefe se huis in Sandhurst, Johannesburg, opgedaag, wat verwarring en spanning veroorsaak het:
# Sewe mense is vanoggend dood in ‘n botsing in Bassonia in die suide van Johannesburg. ʼn Woordvoerder van die stad se metropolisie, Xolani Fihla, sê ʼn minibustaxi en ʼn bakkie was in die botsing betrokke. Hy sê talle mense is beseer, maar die presiese getal moet nog bevestig word:
# Die ontwikkelaar van Please Call Me, Nkosana Makate, betwis ‘n regskostebevel van 13-miljoen-rand nadat hy in die Konstitusionele Hof teen Vodacom verloor het. Die koste hou verband met ‘n enkele dag se betoë nadat die hof in Vodacom se guns beslis en die saak terugverwys het na die Appèlhof. Makate noem die bevel onbillik en oordrewe, en verwys na sy verdediging teen twee afgekeurde aansoeke. Die geskil vorm deel van ‘n langdurige vergoedingstryd van miljarde rand oor die idee.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy het volle vertroue in die stut Zachary Porthen. Die 21-jarige is gereed om Saterdag die eerste keer vir Suid-Afrika uit te draf in die toets teen Japan op Wembley in Londen. Die voormalige SA Onder-20-kaptein het slegs in vyf senior wedstryde vir die Stormers gespeel – vier vanaf die bank en een in die opdrafspan. Erasmus sê Porthen gaan senuagtig wees, maar hy sal fisies gereed wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-en-57-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-18-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-64-sent per vat.
# En laastens, die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse sangeres Tyla is gereed om op haar eerste toer as hoofkunstenaar te vertrek. Die ‘We Wanna Party’-toer sou verlede jaar plaasvind, maar is uitgestel. Die 23-jarige sangerers het haar opgewondenheid op sosiale media gedeel en sê sy het al op ander verhoë opgetree, maar nou kry sy haar eie. Die toer begin op 11 November in Tokio, Japan, gevolg deur optredes in Indonesië, die Filippyne, Singapoer, Indië en Saoedi-Arabië voor dit op 13 Desember in die Verenigde Arabiese Emirate eindig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….