Nuus 13:00
BULLETIN 28 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die tweede verdagte in die taverne-skietery in Bronkhorstpruit is vasgetrek
# Die Konsepwetsontwerp op die beskerming van fluitjieblasers gaan teen einde vanjaar vrygestel word
# En Cosatu steun ‘n Zimbabwiese vakbondfederasie se teenstand teen die voorgestelde verlenging van die presidensiële termyn
# Die Gautengse Eenheid vir Ernstige en Geweldsmisdade en die polisie van Bronkhorstpruit het ‘n tweede verdagte vasgetrek in die skietery in ‘n plaaslike taverne op 5 Oktober waarin vyf mense dood is. Polisiewoordvoerder Brenda Muridili sê hy is in Zithobeni aangekeer in besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen. Hy sluit aan by die eerste verdagte, Xlani Xulu, wat verlede Dinsdag in hegtenis geneem is. Muridili sê albei bly in aanhouding:
# Die adjunkminister van Justisie, Andries Nel, sê die Konsepwetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers gaan teen einde vanjaar vir openbare kommentaar vrygestel word. Nel erken korrupsie het die ondermyning van openbare vertroue veroorsaak, en beklemtoon dat die beskerming van verklikkers die weg baan tot die herstel van staatsintegriteit. Hy sê lesse wat geleer is by die Zondo-kommissie het getoon dat die waarheid oor staatskaping verborge sou gebly het as dit nie vir fluitjieblasers was nie:
# Die vakbondfederasie Cosatu het sy steun aan die Zimbabwiese Vakbondkongres beloof teen pogings om president Emmerson Mnangagwa se ampstermyn te verleng. Die federasie sê pogings om die Grondwet te verander is ‘n bedreiging vir demokrasie, goeie regering en die oppergesag van die reg. Zanele Sabela van Cosatu sê die stryd van Zimbabwiese werkers word verbind aan die breër stryd vir maatskaplike geregtigheid, en vra leiers om demokratiese norme te respekteer en grondwetlike vooruitgang te beskerm:
# Sokker: Die Serie A-voorloper, Napoli, sal moontlik tot vroeg in 2026 sonder Kevin de Bruyne moet klaarkom nadat die Italiaanse klub bevestig het dat hy sy agterknie-sening beseer het. Die voormalige middelveldspeler van Manchester City is Saterdag beseer terwyl hy ‘n strafdoel aangeteken het in sy span se tuisoorwinning van 3-1 oor Inter Milan. Die 34-jarige Belg het na sy doelskop sy regterdy vasgegryp en die klub se mediese personeel het hom van die veld gehelp.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-338-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-900-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-83-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrika se hernubare energienetwerk brei vinnig uit, met meer as 220 gigawatt se son-, wind-, battery- en hibriede projekte wat ontwikkel word. Dit is volgens bevindinge van die jongste Suid-Afrikaanse Hernubare Energie-netwerkopname wat deur die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika uitgevoer is. Sonkrag is die toonaangewende tegnologie wat tans ontwikkel word, en wek 121 gigawatt se krag op, gevolg deur wind. Die Transmissiemaatskappy sê die opname is ‘n belangrike instrument om te bepaal waar en hoe die netwerk moet groei om nuwe hernubare energieprojekte in te sluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….