Nuus 13:00
BULLETIN 6 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Mandela-koningshuis vra die vrylating van die flottielje-gevangenes
# Groot gedeeltes van Johannesburg en Tshwane kan donderstorms en swaar reën verwag
# En atletiek: Suid-Afrika wen vier medaljes op die Wêreld-parakampioenskap in Indië
# Die Mandela-koningshuis vra die onvoorwaardelike vrylating van alle Global Sumud-flottielje-gevangenes, insluitend Mandla Mandela. Israelse magte hou hulle tans aan nadat hulle hulp aan Gaza wou lewer. Die koningshuis het regspanne, diplomate en ondersteuners in ‘n verklaring bedank en veroordeel die beweerde mishandeling van die Sweedse aktivis Greta Thunberg. Die Mandelas het solidariteit met Palestynse gevangenes herbevestig en wêreldwye optrede aangespoor teen wat hy Israel se apartheids-volksmoord noem.
Die vakbondfederasie Saftu het intussen die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging se besluit verwelkom om sy betrekkinge met die Israelse Mediese Vereniging op te skort. Sama sê sy besluit volg op kommer oor die voortslepende humanitêre krisis in Gaza en die gedrag van die IMA wat betref mediese etiek en humanitêre verpligtinge. Saftu se hoofsekretaris, Zwelenzima Vavi, sê Sama se besluit is geskiedkundig en dapper:
# Die GOOD-party is bekommerd oor die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, se afwysende reaksie op ernstige bewerings van finansiële wangedrag. Dit spruit uit die metro se leningsooreenkoms van 2,1-miljard-rand met die Franse Ontwikkelingsagentskap. Suzette Little van GOOD sê die metro het in euro’s geleen en toe die lening in rand omgeskakel, en dit het gelei tot ‘n oorskryding van 116-miljoen-rand as gevolg van wisselkoers-skommelings. Sy sê dit is ‘n oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n Geel Vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms en swaar reën oor die grootste gedeelte van Johannesburg en Tshwane vanaf twee-uur vanmiddag tot tien-uur vanaand. Dit word veroorsaak deur ‘n afsny-laagdrukstelsel. Nana Radebe-Kgiba van die Stad Tshwane se Nooddienste-afdeling sê ‘n 60 persent-kans op reën word voorspel:
# Atletiek: Die Suid-Afrikaners Puseletso Makobe en Simoné Kruger het albei goud verower op die laaste dag van die Wêreld-para-kampioenskap in Nieu-Delhi, Indië. Mabote het die T63 100-meter vir mans in ‘n byeenkoms-rekordtyd van 12.03-sekondes gewen, terwyl Kruger, die Paralimpiese gouemedaljewenner in skyfwerp in Parys, haar beste afstand dié seisoen gegooi het met 37,39-meter in die vroue se F-38-afdeling. Suid-Afrika het die kampioenskap afgesluit met vier medaljes – die twee goues en brons vir Cheryl James en Collen Mahlalela. China het die meeste medaljes, 52, ingepalm.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 123-duisend-977-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-941-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….