Nuus 13:00
BULLETIN 3 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof beslis ouers mag vier maande en tien dae ouerskapsverlof deel
# Solidariteit slaan ‘n slag met ‘n Amerikaanse mikro-handel ooreenkoms
# En, die VryheidsfrontPlus kritiseer Tshwane vir die mors van miljoene op regsaksies
# Die Konstitusionele Hof het ten gunste van pa’s beslis dat ouerskapsverlof van vier maande en tien dae tussen ouers gedeel kan word ná die geboorte van ‘n kind. Regter Laura Lumka Tshiqi het die baanbreker-uitspraak gelewer en sê versorging moenie net tot moeders beperk word nie, aangesien pa’s ook primêre versorgers kan wees. Sy het beslis biologiese ma’s sal voorkeur vir herstel behou, maar ouers kan nou verlof verdeel soos dit hulle pas:
# Solidariteit het ‘n ooreenkoms met die Amerikaanse onderneming Propay Prime beklink om Suid-Afrikaanse rekenaarvaardighede uit te voer, wat burgers toelaat om vir Amerikaanse ondernemings te werk terwyl hulle hier woon. Die plan gaan na na sektore soos finansies, ingenieurswese, onderwys en ontwerp uitgebrei word. Solidariteit se uitvoerende hoof, Dirk Hermann, beklemtoon die ooreenkoms maak dit moontlik om duisende werksgeleenthede sonder rassebeperkings te skep, deur van moderne tegnologie gebruik te maak en in dollar te verdien.
# Die Vryheidsfront Plus sê die Stad Tshwane se keuse en voortgesette gebruik van regsgeleerdes wat min sukses behaal, wek kommer. Volgens ‘n verslag wat die metro se Afdelingshoof vir Regsverteenwoordiging saamgestel het, is daar tans drie-duisend-473 onopgeloste regsake. Die finansiële bedrag betrokke by hierdie sake, sommige so ver terug as 2008, is meer as 12,5-miljard-rand. Johan van der Spuy van die VF Plus sê basiese dienste word afgeskeep terwyl miljoen verkwis word op regsaksies wat vermy kan word.
# Die Forum for South Africa eis dat die Suid-Afrikaanse regering dringende diplomatieke en wettige stappe moet doen om die onmiddellike vrylating van Suid-Afrikaanse burgers, en ander internasionale aktiviste wat Israel ontvoer het, te verseker. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê hulle is deur die Israelse regime ontvoer ná die onderskepping van die Globale Sumud-flottielje in internasionale water naby Gaza. Hy sê die flottielje was ‘n humanitêre sending, wat voedsel en mediese voorrade bestem vir Palestyne vervoer het:
# Gholf: Die uitvoerende hoof van die Amerikaanse PGA, Derek Sprague, sê hy beplan om verskoning te vra aan Rory McIlroy en die res van Span Europa vir die slegte behandeling wat hulle verduur het by die Ryderbeker by Bethpage Black. McIlroy is verbaal aangeval en sy vrou, Erica, is deur ‘n bottel getref wat deur ‘n Amerikaanse toeskouer gegooi is. Europa het die VSA 15-13 geklop en die Ryderbeker gewen. Sprague het aan Golf Channel gesê dit is jammer dat sommige ondersteuners te ver gegaan het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 120-duisend-430-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-858-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….