Nuus 13:00
BULLETIN 29 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Misdaadintelligensie-hoof sê pogings om die taakspan vir politieke moorde te ontbind is aangevuur deur ‘n georganiseerde misdaadkartel
# Die DA sê die stygende infrastruktuurkoste plaas geweldige druk op munisipale begrotings
# En omgewingsgroepe gaan betoog by die Afrika-energieweek in Kaapstad
# Die geskorste hoof van die Misdaadintelligensie-eenheid, Dumisani Khumalo, sê pogings om die taakspan vir politieke moorde te ontbind word aangevuur deur ‘n georganiseerde misdaadkartel wat die ministerie van Polisie beïnvloed het. Khumalo verskyn voor die Madlanga-kommissie in Pretoria nadat bewyse sy inhegtenisneming in Julie verbind het aan beweerde pogings om teen-korrupsiewerk te belemmer. Hy het getuig die taakspan is gestig om aanspreeklikheid vir politieke moorde in KwaZulu-Natal te verseker en het met wraak geworstel tydens die uitvoering van sy mandaat:
# Die DA sê stygende infrastruktuurkoste, ‘n beperkte en verouderde plaaslike regerings-inkomste-model, en stygings van bo-inflasie in elektrisiteit en salaris-insette het geweldige druk op munisipale begrotings geplaas. Leon van Wyk van die DA sê Wes-Kaapse munisipaliteite soos Drakenstein, Mosselbaai, Stellenbosch, Saldanhabaai, Overstrand en George het almal sterk finansiële prestasie getoon. Hy sê finansiële bestendigheid is nie ‘n doel op sigself nie, maar die grondslag vir die uitbreiding van basiese dienste, die ondersteuning van beleggings en die beskerming van werksgeleenthede:
# Omgewingsgroepe, insluitend Green Connection, gaan buite die Kaapstadse Internasionale Konvensie-sentrum betoog tydens die Afrika-energieweek wat vandag begin. Die geleentheid bring Afrika se energieleiers vir vier dae byeen vir intense onderhandelings oor die toekoms van die vasteland se energiebedryf. Lisa Makaula van Green Connection sê hulle vra beleggings in son-, wind- en veerkragtige voedselstelsels in gemeenskapsbesit. Sy voeg by hulle beywer hulle ook vir ‘n billike en inklusiewe energie-oorgang wat mense bo wins stel:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Jannik Sinner, het die Hongaar Fabian Marozsan in skoon stelle geklop om die derde agtereenvolgende jaar die halfeindronde van die Chinese Ope te bereik terwyl Iga Swiatek die laaste sestien bereik toe haar teenstander weens ‘n besering onttrek het. Sinner het die 57ste op die wêreld-ranglys 6-1, 7-5 geklop en speel volgende teen die derde-gekeurde Alex de Minaur. Die eerste-gekeurde Swiatek van Pole het die eerste stel 6-stroop teen Camila Osorio gewen voor die Colombiaan onttrek het. Swiatek speel volgende teen Emma Navarro van Amerika.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-138-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-812-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-20-sent per vat.
# En laastens: Suid-Afrika het vyf internasionale Emmy-benoemings ontvang, die meeste ooit vir ‘n Afrika-land in een jaar. MultiChoice het vier benoemings gekry: vir Chasing the Sun 2, die Afrikaanse misdaaddrama Koek, die treffende dokumentêr School Ties en Catch Me a Killer, ‘n sielkundige riller wat aan Charlotte Hope in die rol van Micki Pistorius, ‘n benoeming vir die beste aktrise besorg het. Play Room Live is benoem in die feitlike en vermaaklikheidskategorie vir kinders. Die wenners word op 24 November in New York aangekondig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….