Nuus 13:00
BULLETIN 4 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika pak die uitdagings van de-industrialisering aan
# Die Siyafana Sonke Action Campaign veroordeel uitlatings deur die eThekwini-burgemeester wat waninligting oor migrante aanwakker
# En tennis: Titel-mededingers Novak Djokovic en Jannik Sinner vorder by Wimbledon
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrika se nywerheidslandskap word toenemend gekenmerk deur buitelandse ondernemings wat plaaslike nywerheidsmaatskappye oorneem. Hy erken hierdie beleggings bring wel noodsaaklike kapitaal en gevorderde tegnologie, maar waarsku die neiging wek kommer oor moontlike de-industrialisering en die afname in plaaslike eienaarskap. Mashatile sê Suid-Afrika pak die uitdagings van de-industrialisering aan deur ‘n staatsgeleide strategie wat die behoefte beklemtoon om ‘n balans te vind tussen buitelandse beleggings en sterk beskerming van plaaslike belange.
# Siyafana Sonke Action Campaign het uitsprake deur die burgemeester van eThekwini, Cyril Xaba, veroordeel en voer aan dit dra by tot waninligting wat kwesbare migrant- en vlugtelinggemeenskappe teiken. Julie Eccles van die organisasie sê Xaba het in ‘n onlangse internetuitsending aan die onderhoudvoerder gesê ontheemde vlugtelinge eis ‘gratis behuising’, tot nadeel van Suid-Afrikaners. Sy sê hy weet egter die vlugtelinge het op straat voor Binnelandse Sake se Vlugtelingkantoor in Durban gebly:
# Die adjunkminister vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Mmapaseka Letsike, verwelkom ‘n verslag van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing wat toenemende openbare steun aandui vir die insluiting, gelykheid en menswaardigheid van LGBTIQ+ persone in Suid-Afrika. Sy sê die bevindings weerspieël bemoedigende vordering met die beginsels dat alle mense vry en gelyk in waardigheid en regte gebore is. Sy voeg by die verslag herbevestig Suid-Afrika se grondwetlike waardes van menswaardigheid, gelykheid, vryheid en geen diskriminasie, en onderstreep die land se verbintenis tot die internasionale Verklaring van Menseregte.
# Die DA verwelkom die bekendstelling van LATAM Airlines se regstreekse diens tussen Kaapstad en São Paulo. Die party sê dit is nie net vir die Wes-Kaap ‘n groot oorwinning nie, maar ook vir Suid-Afrika se toerisme-ekonomie, internasionale mededingendheid en werkskepping. Die DA sê Brasilië is een van Suid-Afrika se grootste toerismemarkte in Suid-Amerika, en São Paulo dien as een van Latyns-Amerika se belangrikste lugvaartsentrums, wat naatlose verbindings na talle bestemmings op die vasteland bied.
# En tennis: Novak Djokovic het nog ‘n bietjie Wimbledon-geskiedenis gemaak toe die sewemalige wenner na die vierde ronde deurgedring het, terwyl die verdedigende kampioen Jannik Sinner Vrydag met Jenson Brooksby afgereken het. Djokovic het die 25ste gekeurde Arthur Rinderknech van Frankryk geklop en daarmee Roger Federer se rekord vir die meeste enkelspel-oorwinnings op Wimbledon geëwenaar. Djokovic deel nou saam met Federer die rekord vir die meeste verskynings in die laaste 16 van die mansenkelspel op Wimbledon in die Ope Era, nadat hy vir die 18de keer die vierde ronde gehaal het.
Sinner het ‘n indrukwekkende vertoning gelewer en die wêreld-nommer-81 Brooksby met 6-4, 6-3, 6-4 geklop. Die 24-jarige Italianer het daarmee vir die vyfde keer die laaste 16 by Wimbledon gehaal en Nicola Pietrangeli se Italiaanse rekord vir die meeste verskynings in die vierde ronde van die mansenkelspel geëwenaar. Sinner speel volgende teen die Japannese kwalifiseerder Shintaro Mochizuki, wat die Spanjaard Rafael Jodar in die derde ronde uitgeskakel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….