Nuus 13:00
BULLETIN 24 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorsitter van die Nasionale Loterykommissie, Barney Pityana, bedank
# Kenners is bekommerd oor ‘n toename in dobbelary onder vroue
# En rugby: Rassie sê gister se oorwinning het die momentum herstel, maar Nieu-Seeland bly die uitdaging
# Die voorsitter van die Nasionale Loterykommissie, Barney Pityana, het bedank, twee jaar voor die voltooiing van sy vyfjaartermyn. Hy het die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, skriftelik in kennis gestel, maar sy redes bly onduidelik. Pityana, wat in 2022 na ‘n betwiste proses aangestel is, het die skandaal-geteisterde Alfred Nevhutanda opgevolg. Hy het saam met kommissaris Jodi Scholtz en ‘n nuwe raad gewerk om teen-korrupsiemaatreëls in te stel om die problematiese liggaam te bestendig. Ten spyte van vordering is daar steeds probleme met die kommissie se aansien terwyl die Spesiale Ondersoekeenheid projekte ter waarde van minstens twee-miljard-rand ondersoek.
# Kenners waarsku teen ‘n toenemende finansiële risiko nadat ‘n 2025 Old Mutual Spaar- en Beleggingsmonitor onthul het dat meer vroue dobbel om hul inkomste aan te vul. Die opname het bevind dat 46-persent van werkende vroue dobbel, met 52-persent wat dit doen vir ekstra inkomste. Baie vroue, veral enkelmoeders, gaan gebuk onder finansiële druk. Old Mutual se hoof van Kennis en Insigte, Vuyokazi Mabude, het oorbesteding, veelvuldige werkgeleenthede en die druk van die toebroodjie-generasie uitgelig as bydraende faktore tot vroue se finansiële stres:
# Die EFF-leier Julius Malema sal vanmiddag die hoofrede lewer by die Jaarlikse Algemene Konferensie van die Nigeriese Balievereniging. Die geleentheid word aangebied by die Enugu Internasionale Konferensiesentrum in die Nigeriese staat Enugu. Besprekings sal fokus op regsontwikkeling, regshervorming en die rol van regspraktisyns in die versterking van demokratiese regering en die oppergesag van die reg in Nigerië.
# Die Amerikaanse minister van Verdediging, Pete Hegseth, het die hoof van die Pentagon se intelligensie-agentskap, luitenant-generaal Jeffery Kruse, afgedank net weke nadat die Withuis ‘n hersiening van die uitwerking van Amerikaanse aanvalle op Iran verwerp het. In Junie het president Donald Trump sterk teruggekap teen ‘n uitgelekte verslag waarvolgens die aanvalle op Iran se kernprogram dit met slegs maande vertraag het. In ‘n verklaring het die Amerikaanse senator Mark Warner gewaarsku dat Kruse se afdanking dui op Trump se gevaarlike optrede om intelligensie as ‘n lojaliteitstoets te gebruik eerder as beskerming vir die land.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê gister se oorwinning oor Australië het die moreel gebou, maar die Rugbykampioenskap-titel berus steeds op ‘n oorwinning in Nieu-Seeland. Erasmus sê die oorwinning van 30-22 was ver van ‘n perfekte wedstryd. Hy sê in vergelyking met verlede week se twee of drie uit tien vertoning, was hierdie week ‘n ses of sewe. Die Springbokke sal volgende week ‘n 36-man-groep op toer neem vir twee toetse wat steeds deurslaggewend is vir die Bokke. Die eerste wedstryd teen Nieu-Seeland word op 6 September by Eden Park in Auckland gespeel.
# En ten slotte, president Cyril Ramaphosa het die president en uitvoerende hoof van Toyota Tsusho, Toshimitsu Imai, ontmoet by die negende Tokio Internasionale Konferensie oor Afrika-ontwikkelingsberaad in Yokohama, Japan. Die bespreking het gefokus op die versterking van handels- en beleggingsbande en geleenthede ondersoek om ekonomiese samewerking en volhoubare ontwikkeling te bevorder en industriële vennootskappe te versterk. Ramaphosa en die Suid-Afrikaanse afvaardiging is verrassend verwelkom met die Suid-Afrikaanse loflied, Wahambanathi, uitgevoer deur twee Japannese musikante:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….