Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma se advokaat beweer die verwydering van Billy Downer is deurslaggewend vir ‘n regverdige verhoor
# Aartappelpryse styg met 15-persent nadat swartryp oeste in Limpopo verwoes
# En, krieket: Die Engelse kolwer Dawid Malan tree uit die internasionale spel
# Oudpresident Jacob Zuma se advokaat, Dali Mpofu, sê dis voortydig om ‘n voorverhoordatum te bepaal in die wapentransaksie-korrupsiesaak terwyl die aansoek oor staatsaanklaer Billy Downer se verwydering nog nie afgehandel is nie. Die saak is vanoggend hervat in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal. Dit handel oor beweerde korrupsie met ‘n multimiljoen-rand ooreenkoms tussen die regering en die Franse wapenhandelaar Thales in die 1990’s. Mpofu sê om voort te gaan sonder dat die verwyderingspoging afgehandel is, sal Zuma se reg op ‘n regverdige verhoor skend:
# Aartappels SA wys daarop die pryse van Suid-Afrikaanse aartappels het binne ‘n week met 15-persent gestyg, nadat verwoestende swartryp oeste verweer het in Limpopo – ‘n belangrike produksiestreek. Data toon die gemiddelde prys van ‘n tien-kilogram-sakkie het tot meer as 85-rand gestyg en selfs tot 100-rand in Mbombela, Mpumalanga, en in Kaapstad. Die verslag toon hierdie skerp styging het plaasgevind ondanks ‘n afplatting in voedselinflasie, en onderstreep die gevolge van slegte weer op stapelvoedselvoorraad in die land.
# ‘n Nuwe verslag deur Naspers en die Mapungubwe Institute for Strategic Reflection het onthul Suid-Afrika se digitale platform-ekonomie kan teen 2035 91,4-miljard-rand tot die ekonomie bydra. Die uitvoerende hoof van Naspers Phuthi Mahanyele-Dabengwa lig die hervormende potensiaal uit van digitale platforms en voorspel bruto binnelandse produkgroei van 0,02-persent in 2022 tot 1,38-persent teen 2035. Sy sê dis ‘n aansienlike ekonomiese groeivooruitsig:
# Krieket: Die Engelse kolwer, Dawid Malan, het sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig nadat hy sedert 2017 in 22 toetse, 30 eendagwedstryde en 62 T20s gespeel het. Die 36-jarige was in 2020 die wêreld se beste T20-kolwer en die vinnigste om ‘n duisend lopies in internasionale T20s aan te teken toe hy dit binne 24 wedstryde reggekry het. Malan was deel van Engeland se groep wat die T20-Wêreldbekertoernooi in 2022 gewen het. Hy en Jos Butler is die enigste Engelse spelers wat honderdtalle in al drie formate kon aanteken.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-663-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-22-sent per vat.
# En ten slotte: Die country-musieklegende Dolly Parton se Imagination Library boekskenkingsprogram brei steeds uit. Sedert die aanvang van die program, is boeke aan meer as 240-miljoen kinders in Amerika, Kanada, Brittanje, Ierland en Australië uitgedeel. Die program in Amerika is nou na verskeie state soos Missouri en Kentucky uitgebrei. Parton sê dit was haar visie die afgelope dertig jaar om geletterdheid te verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….