Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu loof die polisie vir die redding van ‘n ontvoeringslagoffer en ‘n dwelmklopjag
# Die onlangse swaar reën in die Wes-Kaap het besoedeling in riviere en op strande veroorsaak
# En, die Olimpiese Spele: Net twee van die top-tien mans-gholfspelers sal Parys misloop
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, loof die SAPD vir die redding van ‘n ontvoerde sakeman in Johannesburg en die inhegtenisneming van agt verdagtes, insluitend drie Tanzaniese burgers. Die operasie het gelei tot die beslaglegging op vermoedelik tik ter waarde van 300-miljoen-rand. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê Mchunu is beïndruk met die professionalisme en koördinering van die SAPD en wys op die noodsaaklikheid van voortgesette pogings teen georganiseerde misdaad en dwelmhandel:
Die polisie in die Oos-Kaap het intussen ‘n Chinese burger gered wat Saterdag in King Williamstown ontvoer is, en drie verdagtes aangekeer. Woordvoerder Siphokazi Mawisa sê die polisie het inligting opgevolg wat hulle na die huis van ‘n taxi-eienaar in Mooiplaas, buite Oos-Londen, gelei het. Mawisa sê die man is ongedeerd gevind:
# Die DA in Gauteng sê hy gaan geen begrotings ondersteun wat die ANC-geleide koalisie ter tafel lê nie. Talle LUR’e dien hul onderskeie departemente se begrotings in sodat die wetgewer daaroor kan stem. Die DA se provinsiale leier, Solly Msimanga, sê die huidige regering gaan voort om begrotings ter tafel te lê wat nie daarop gemik is om mense se lewens te verbeter nie. Die DA hou 22 van die 80 setels en het besluit om die opposisie te wees nadat samesprekings misluk het om saam met die ANC ‘n meerderheidsregering te vorm.
# Die onlangse swaar reën in die Wes-Kaap het besoedeling in riviere en op strande veroorsaak. Plastieksakke, babakosverpakkings, mikroplastiek, mediese afval, skoene en ander kledingstukke is op strande en riviere aangetref. Suid-Afrika dra 35-persent by tot plastiekbesoedeling wat in waterweë en die marine-omgewing in Suider- en Oos-Afrika beland. Volgens die Internasionale Natuurbewaringsvereniging is besoedeling nie net ‘n omgewingsprobleem nie, maar ook ‘n menslike probleem.
# Olimpiese Spele: Net twee van die wêreld se top-tien mans sal die gholfkompetisie in Parys misloop, vergeleke met Rio in 2016 toe die sport na die Spele teruggekeer het. Baie van die beste spelers het nie deelgeneem nie weens vrese oor die Zika-virus, en omdat hulle gholf glo nog nie as ‘n Olimpiese sport aanvaar het nie. Die enigste twee top-tienspelers wat nie in Parys is nie, is Patrick Cantlay en Bryson DeChambeau, en net omdat vier ander Amerikaners wat bo hulle op die ranglys is reeds deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-590-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-433-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….