Nuus 13:00
BULLETIN 28 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê sy opwekkingsherstelplan help hom om meer doeltreffend te wees
# Die Oos-Kaapse premier sê regter Maya baan die weg vir toekomstige geslagte vroue op regbank
# En, motorsport: Verstappen mik na ‘n F1-rekord by die Belgiese Grand Prix
# Eskom sê sy opwekkingsherstelplan is steeds doeltreffend met ‘n beraamde vermindering van meer as nege-miljard-rand in die besteding van diesel vir sy oopsiklus-gasturbines, van 1 April tot 25 Julie, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die kragnutsmaatskappy se strategiese gebruik van spitstyd-stasies, insluitend pomp-opgaar en gasturbines, is steeds ‘n sleutelfaktor in die bestuur van krag-aanvraag tydens spitstye, veral saans:
# Die Oos-Kaapse premier Oscar Mabuyane sê regter Mandisa Maya se aanstelling as hoofregter baan die weg vir toekomstige geslagte van vroue op die regbank en vir leierskap. Die provinsiale regeringswoordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê haar prestasie is ‘n baken van hoop en inspirasie wat toon dat met harde werk en vasberadenheid, engiets moontlik is. Sy voeg by Maya se aanstelling is ‘n betekenisvolle mylpaal in Suid-Afrika se pad na geslagsgelykheid en gelyke verteenwoordiging:
# ‘n Navorser van die Universiteit van die Witwatersrand, Tracy-Lynn Field, sê Suid-Afrika kan ‘n toename in die aantal veldbrande in streke sien wat reeds warm, droog en waterskaars is. Die grootste oorsaak van veldbrande is baie warm en droë toestande met temperature van meer as 42-grade, sterk wind en droë plantegroei. Field sê sy het in haar navorsing bevind daar was tussen 1997 en 2023 minstens 22 skadevergoedingseise. Daar is nog nie ‘n klimaatsveranderingswet wat uiteensit hoe mense wat verliese gely het, vir klimaatverwante brande kan eis nie.
# Olimpiese Spele: ‘n Sterbelaaide Amerikaanse mans-basketbalspan gaan probeer om sy vierde agtereenvolgende goue medalje te wen. Hulle begin hulle veldtog vandag teen Serwië. Een van die grootste sterre in die sport is die viermalige NBA-kampioen, Stephen Curry, wat sy Olimpiese debuut maak. Die 36-jarige is opgewonde om in Parys te wees:
# En, motorsport: Max Verstappen van Red Bull kan vanmiddag ‘n Formule-1-rekord by die Belgiese Grand Prix oortref. Verstappen en Fernando Alonso, wat vir Aston Martin jaag, is saam die voorlopers vir die meeste oorwinnings van verskillende wegspringplekke. Die twee wêreldkampioene het van nege verskillende posisies af oorwinnings behaal. Verstappen het die vinnigste kwalifiserende tyd in België opgestel, maar kan nie voor wegspring nie, want hy is met tien plekke gepenaliseer vir die gebruik van ‘n vyfde enjin dié seisoen. Die Nederlander spring dus vanmiddag in die elfde plek weg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….