Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Transnet kritiseer die Wêreldbank se gradering van Suid-Afrikaanse hawens
# ‘n Verdagte is aangekeer vir die onwettige verkoop van steenkool in Mpumalanga
# En, Olimpiese Spele: Gerda Steyn spits haar toe op die Spele-marathon nadat sy weer die Comrades wen
# Transnet Hawe-terminale en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vragversenders het ‘n verslag van die Wêreldbank en die graderingsagentskap S&P gekritiseer wat vier Suid-Afrikaanse hawens wêreldwyd onder die swakste plaas. Hulle voer aan die Houer-haweprestasie-aanwyser is gebrekkig. Die vereniging se uitvoerende hoof, Juanita Maree, glo die hawens moet hoër geplaas word, en het hul lae plasing toegeskryf aan verouderde data. Transnet meen feitefoute is gemaak en beplan om dit met die Wêreldbank te bespreek weens onlangse verbetering in haweprestasie en die verkryging van toerusting.
# Eskom sê hy werk steeds saam met wetstoepassingsagentskappe om te verseker onwettige steenkoolwerwe word toegemaak. ‘n Vragmotorbestuurder is Saterdag in hegtenis geneem vir die beweerde verkoop van steenkool wat by ‘n myn in eMakhazeni gelaai en vir die Arnot-kragstasie in Mpumalanga bestem was. Hy het dit vir ses-duisend-rand verkoop. Aubrey Sambo van Eskom sê die lewering van swak-gehalte steenkool lei dikwels tot eenhede wat breek en sal nie geduld word nie:
# Die Grensbestuursowerheid het berigte weerlê dat die oorgang tot ‘n biometriese stelsel op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng vertragings vir internasionale vertrek en aankomste veroorsaak. Woordvoerder Mmemme Mogotsi sê die huidige verwerkingstelsel by sy Immigrasiedienste is ten volle in bedryf en ontwerp om hoë volume verkeer doeltreffend te hanteer. Sy voeg by die vals berigte het onnodige kommer by reisigers en belanghebbendes veroorsaak:
# Italië word as G7-leier versoek om te sorg dat lidlande hul beloftes oor klimaatsfinansiering aan Afrika nakom. Dit is die mening van die oud-president van Malawi, Joyce Banda. Sy het verwys na sikloon Freddy wat verlede jaar tot die dood van meer as duisend mense gelei het, met meer as 650-duisend wat dakloos gelaat is. Twee miljoen boere het hul oeste verloor en meer as duisend-500 stuks vee het gevrek. Banda sê ‘n G7-ooreenkoms moet begin met die betaling van die beloofde geld sodat lande soos Malawi ná klimaatsrampe kan herstel.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse langafstandatleet, Gerda Steyn, spits haar aandag nou toe op die Spele in Parys nadat sy Sondag haar Comrades-marathon-titel suksesvol verdedig het in ‘n nuwe rekordtyd. Dit het gevolg op haar oorwinning in die Twee Oseane-marathon in April. Steyn verwag ‘n groot uitdaging in die Olimpiese marathon op tien Augustus. Haar beste tyd oor die afstand van 42,195-kilometer is twee-uur-24-minute ,terwyl die verdedigende Olimpiese kampioen, Peres Jepschirchir van Kenia, onlangs ‘n nuwe wêreldrekord-tyd van twee-uur-16-minute-16-sekondes opgestel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-11-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-380-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-304-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….