Nuus 13:00
BULLETIN 10 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement sal voortgaan met sy eerste sitting soos bepaal deur die hoofregter
# Johannesburg sal partye beboet vir verkiesingsplakkate wat nie verwyder is nie
# En, tennis: ‘n Volgende geslag kampioene kan die Groot Drie vervang
# Die Parlement se eerste sitting gaan voort soos bepaal deur hoofregter Raymond Zondo, ondanks kommer deur die MK-party se regsverteenwoordiger. Die Parlement stem nie saam met Zungu Incorporated se vertolking van Artikel 46 van die Grondwet nie, en bevestig die sekretaris se verpligting om die sitting te reël. Die hoof parlementêre regsadviseur, Zuraya Adhikarie, sê as ‘n hof nie die verkiesingsuitslae omkeer nie, sal die eerste sittings van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies voortgaan. Reis- en verblyfreëlings vir MK-lede word gekanselleer om verkwisting te voorkom.
Intussen sê die Stad Johannesburg die Metropolisie se Verordeningseenheid sal verkiesingsplakkate verwyder as politieke partye dit nie afgehaal het nie, en boetes oplê. Woordvoerder Virgil James sê die stad se straatligpale is tydens die verkiesingsveldtogte behang met kleurvolle plakkate, maar as dit nie opgeruim word nie, sal dit die stad ontsier. Hy sê dit is waarom voorsiening vir die verwydering gemaak word in Artikel 28:
# Australië se eerste minister, Anthony Albanese, het die Liberale partyleier, Peter Dutton, se planne gekritiseer om die land se verbintenis tot die Paryse Klimaatsooreenkoms te laat vaar. Dutton sê hy sal in die volgende verkiesing beswaar maak teen die uitstralingsteiken vir 2030 soos in wetgewing bepaal, naamlik ‘n verlaging van 43-persent teenoor 2005, maar bly verbind tot die bereiking van net-zero-uitstraling teen 2050. Albanese sê die land kan nie teruggaan op sy uitstralingsteikens nie:
# Tennis: Die sport is besig om ‘n gedaanteverwisseling te ondergaan, met Jannik Sinner van Italië en Carlos Alcaraz van Spanje wat as die volgende geslag kampioene na vore tree. Sinner het vandag as die wêreld-nommer-een oorgeneem by Novak Djokovic van Serwië, wat die afgelope 20-jaar oorheers het saam met die Spanjaard Rafael Nadal en die Switser Roger Federer. Alcaraz het die Duitser Alexander Zverev gister in die Franse Ope geklop en dit was die eerste keer sedert 2004 dat een van die Groot Drie nie in die eindstryd was nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-396-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-295-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: Negentien atlete wat gister aan die Comrades-marathon deelgeneem het, het 160-duisend-rand vir Rainbows and Smiles ingesamel. Die welsynsorganisasie verskaf emosionele, maatskaplike en finansiële steun aan kinders met kanker. Meer as 20-duisend atlete het die wedloop oor 85,91-kilometer tussen Durban en Pietermaritzburg aangepak. Rainbows and Smiles se stigter, Bonni Suckling, sê elk van die 19 atlete is toegewyd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….