Nuus 13:00
BULLETIN 6 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AZAPO glo die regering het nie ‘n strategie om misdaad te beveg nie
# Sibanye-Stillwater gaan dissiplinêre maatreëls toepas ná mynwerkers se ondergrondse sitstaking
# En, krieket: ‘n Sterk veelsydige bydrae van Stoinis help Australië wen
# Die Azanian People’s Organisation sê dit lyk asof die regering nie ‘n strategie teen misdaad het om te verseker dat burgers veilig is nie. Dit volg na die dood van sy Wes-Kaapse leier, Mzimkhulu Nojozi, wat buite sy huis in Gugulethu, Kaapstad, doodgeskiet is. Jabu Rakwena van Azapo sê die 63-jarige Nojozi voer die afgelope 20 jaar al ‘n stryd vir ‘n wapenvrye Suid-Afrika:
# Sibanye-Stillwater sê hy sal dissiplinêre maatreëls instel teen die mynwerkers wat ‘n ondergrondse sitstaking in die Khwezi-skag in Rustenburg, Noordwes, uitgevoer het. Meer as 200 mynwerkers het gestaak teen die voorgestelde werknemer-aandele-eienaarskapsplan vir die personeel van die maatskappy se Kroondal-myn. Die sitstaking het Maandag begin en die laaste 31 werkers het gister na die oppervlak gekom. Sibanye sê samesprekings gaan voort met vakbonde oor die besonderhede van die skema.
# Die Departement van Gesondheid vra waaksaamheid teen die verspreiding van die M-pokke-virus. Twee nuwe gevalle is in KwaZulu-Natal aangemeld, na vermoedelike plaaslike oordrag. Die publiek se samewerking word gevra om verdere verspreiding te keer. Die virus, wat oorgedra word deur nabye kontak en liggaamsvloeistowwe, vereis vroeë diagnose en behandeling. Woordvoerder Foster Mohale sê meer intensiewe toesig- en kommunikasiepogings probeer die stigma teenwerk en openbare bewustheid verhoog:
# Die regering vra die publiek om waaksaam te wees te midde van swaar reën en oorstromings wat verskeie provinsies raak. Oorstromings in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal het die lewens van 21 mense geëis en meer as vier-duisend is dakloos gelaat. Die regering is besig met ‘n skadeberaming in die twee provinsies en gee leiding oor verdere regeringsingrypings. ‘n Regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê motoriste word gemaan om versigtig te bestuur.
# Krieket: Marcus Stoinis het met die kolf en die bal presteer toe Australië Oman vanoggend in Barbados met 39 lopies verslaan het in hulle aanvangswedstryd van die T20 Wêreldbekertoernooi. Australië het teruggeveg van 50 vir drie en 164 vir vyf aangeteken, met 50-talle vir Stoinis en David Warner. Stoinis het toe ook drie paaltjies ingepalm om Oman te beperk tot 125 vir nege. Die Aussies het reeds die Wêreldtoetskampioenskap en die eendag-Wêreldbeker gewen en Stoinis sê hulle soek nog sukses:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-134-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-363-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….