Nuus 13:00
BULLETIN 9 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika herdenk die geskiedkundige vroue-optog 70 jaar gelede
# Die ANC in Johannesburg verwerp ‘n meningsopname wat toon dat die DA voorloop
# En Donald Trump se voormalige prokureur word bevestig as Amerika se prokureur-generaal
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het vroue vereer wat ‘n verskil in gemeenskappe maak, terwyl Suid-Afrika 70 jaar sedert die geskiedkundige Vroue-optog in 1956 herdenk. Meer as 20-duisend vroue het na die Uniegebou opgeruk teen die paswette wat op swart vroue afgedwing is. Lesufi het tydens ‘n Vrouedagviering in Pretoria die opmars beskryf as ‘n simbool van moed en weerstand. Hy sê Suid-Afrika moet ‘n sterk nasionale standpunt inneem teen geslagsgeweld en vrouemoord:
# Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het ‘n ANC-mededeling oor die aanbevole aanstelling van advokaat Thandazani Madonsela as getuienisleier na die Artikel 89-ampsklagkomitee verwys. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het bekendgemaak Madonsela het voorheen regsadvies aan die ANC verskaf oor Artikel 89-reëls en -prosesse. Parlementêre woordvoerder Moloto Mothapo sê die bekendmaking is nie ‘n beswaar teen Madonsela se aanstelling nie. Die komitee sal die saak oorweeg:
# Die Departement van Binnelandse Sake en die Grensbestuursowerheid sê die bedrywighede by die Musina-repatriasiesentrum is afgeskaal. Die owerhede sê die aantal ongedokumenteerde migrante wat by die sentrum nagegaan en verwerk word, het afgeneem. Die vermindering volg op ‘n afname in die aantal mense wat verwerking by die fasiliteit benodig. Binnelandse Sake en die owerheid sê hulle hou steeds die situasie en immigrasieprosesse dop en gaan voort om verifikasie en repatriasie te bestuur in ooreenstemming met toepaslike prosedures.
# Die ANC se Groter Johannesburg-streek het ‘n meningsopname van die Maatskaplike Navorsingstigting verwerp wat toon dat die DA 42-persent steun in Johannesburg het, vergeleke met 18-persent vir die ANC. Die party bevraagteken die opname se onafhanklikheid en wil hê die metodologie en besonderhede oor die opdrag daarvoor moet vrygestel word. ANC-woordvoerder Mantombi Nkosi erken inwoners is bekommerd oor dienslewering, misdaad, werkloosheid en korrupsie. Sy sê die mobilisering in al 135 wyke sal voor die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing verskerp word:
# Donald Trump se voormalige persoonlike prokureur, Todd Blanche, is naelskraap as prokureur-generaal bevestig. Dis die land se top-wetstoepassingsbeampte. Die stemming bring ‘n einde aan die voortslepende geskil tussen die Republikeine in die Senaat en die Trump-administrasie oor Blanche, wat sedert April as waarnemende prokureur-generaal dien. Blanche is oornag in ‘n stemming van 50-49 bevestig, met twee Republikeinse senatore, Susan Collins en Lisa Murkowski, wat by die Demokrate aangesluit het om sy nominasie teen te staan. Die Demokratiese leier van die Senaat, Chuck Schumer, sê Todd Blanche het geen voorneme om Trump se korrupsie te stop nie.
# En sokker: Orlando Pirates is deur na die MTN8-halfeindronde na ‘n oorwinning in ekstra tyd met 2-1 oor Durban City FC in die Orlando Arena. Patrick Maswanganyi het die eerste punte in die eerste helfte met ‘n strafskop aangeteken nadat Durban City se Brooklyn Poggenpoel afgestuur is. Jean Lwamba van City het die telling gelykgemaak voordat die nuweling Gamphani Lungu die wendoel laat in die wedstryd met ‘n uitstekende lopie aangeteken het. Die verdedigende kampioene beweeg nou nader aan ‘n vyfde MTN8-titel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….